On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Landboureus, Kammie Strydom, 'laat 'n groot leemte'

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Thu, 23 Jul 2020

Landboureus, Kammie Strydom, 'laat 'n groot leemte' | News Article
Kammie Strydom en sy vrou Anita. FOTO: Facebook

Talle in landbou- en regskringe betuig medelye met die afsterwe van 'n leierboer en 'n veelsydige advokaat van Vryburg in Noordwes.


Kammie Strydom is Maandag in die ouderdom van 72 in die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp in Noordwes weens Covid-19 oorlede. Sy seun Zarlus, sê sy pa het gesukkel met sy longe en het verlede jaar ook varkgriep opgedoen. Hy sou eerskomende Dinsdag 73 geword het. Kammie het nie slegs diep spore in Noordwes getrap nie, maar ook in sy jonger jare in die Vrystaat. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Zarlus gepraat... 


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê sy pa, wat aan  aan Grey-kollege Sekondêr gematrikuleer het en sy LLB-graad aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het, het nadat hy tot die balie toegelaat is en in Bloemfontein gebly het, besluit om te gaan boer. Hy het in die jare tagtig na Vryburg verhuis om saam met Zarlus se oupa, Frik,  te boer. Zarlus sê sy pa het daarna sy eie plaas met die hulp van sy oupa gekoop. Sy pa was baie betrokke by georganiseerde landbou en was destyds onder meer 'n lid van die landbouwerkgewersorganisasie en was ook op die direksie van Suidwes Landbou gewees.  

Zarlus vertel sy pa het 'n verskeidenheid gewasse geproduseer, waarvan die grootste mielies was. Hy het grondbone op droëlanderye en saadmielies onder besproeiing aangeplant. Hy het ook paprika en aartappels aangeplant en het 'n veevertakking gehad. Kammie was trots op sy Santa Gertruda-stoet en het ook 'n kommeriële skaapkudde gehad. 

Zarlus praat met groot lof van sy pa en sê hy kon behoorlik omgekrap raak, maar het 'n sagte hart gehad. Hy het baie durf en dryfkrag gehad en het presteer in alles wat hy aangepak het. Hy het 'n vol lewe gehad en sy beste gegee in alles wat hy gedoen het. Hy het sy kinders geleer om dit wat hulle doen voluit aan te pak.  

Kammie het in 2010 van sy plase verkoop en weer heeltyds gepraktiseer as advokaat en het saam met sy vrou Anita op 'n kleinhoewe gebly. Strydom se troosdiens is eerskomende Vrydag om 11:00 in die NG Wes-gemeente in Vryburg. Die Covid-19-regulasies ten opsigte van bywoning sal gevolg word, maar dié diens sal heel moontlik op die internet gevolg kan word.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.