Agri Hour
Begrotingsbesnoeiing weens afwesigheid van plan, meen DA─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Fri, 24 Jul 2020
Die DA het sy kommer uitgespreek oor die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, se aanpassingsbegroting.
Dit kom nadat die totale begroting van die departement vir dié boekjaar met R2,39 miljard vanaf die oorspronklike bedrag van R16,8 miljard tot R14,4 miljard verminder is. Die Covid-19-pandemie se impak het grotendeels tot dié afskaling bygedra. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê dit is duidelik dat die departement nie 'n plan het om landbou vorentoe te neem nie. Daarom het landbou 'n groot begrotingsbesnoeiing gehad. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met haar gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Steyn sê die DA is van mening dat dié departement nie genoeg doen om dit wat die belangrikste is in terme van voedselsekerheid in die land, aan die gang te hou nie. As sy die minister van finansies was, sou sy ook nie meer geld aan die departement van landbou toegedien het vir sy begroting nie, juis omdat die departement nie 'n voldoende plan in plek het nie om landbou vorentoe te neem nie.
Die DA se mening het duidelik na vore gekom, met dié departement wat nou weer een van die grootste begrotingsbesnoeiings gehad het. Sy sê die onderwysdepartement het snaaks genoeg ook 'n groot besnoeiing in sy begroting gehad.
Volgens Steyn is die grootste gedeelte waar daar gesny gaan word aan die landboudepartement se begroting, voedselsekuriteit. Daar is altyd basiese bedrae wat betaal moet word soos salarisse en huur, en daar is begroot daarvoor, maar om te besnoei aan die begroting in terme van geld wat aan boere beskikbaar gestel moet word om kos te produseer en voedselsekerheid te skep, wek kommer. Dit sluit die omvattende landbou-ondersteuningsprogram (Casp) in wat veral kleinboere ondersteun om aanplantings te doen en om ander produkte te verkry om voort te gaan met produksie. Geld is ook besnoei vir personeel en grondaankope, omdat die departement van grondsake nou deel is van landbou. Ook dit wek kommer by die DA.
Steyn sê die departement is nie erg bekommerd oor die besnoeiing van landelike ontwikkeling nie, want sy is van mening dat daar weer eens nie genoeg en voldoende planne in plek is om ontwikkeling uit te brei nie. Sy meen die planne wat reeds in plek was om landelike ontwikkeling vorentoe te neem, is nie voldoende nie en kan nie in plek gestel word nie.
OFM-nuus
