On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Agri Hour

SA in 'n 'skeefloopsituasie' weens misdaad, swak ekonomie - TLU SA

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Mon, 27 Jul 2020

SA in 'n 'skeefloopsituasie' weens misdaad, swak ekonomie - TLU SA | News Article

Suid-Afrika is in 'n skeefloopsituasie ten opsigte van misdaad in die land.



Die regering is afwesig en dit is vir TLU SA 'n bron van groot kommer. So sê dié organisasie se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, wat meen met die strenger inperkingstydperk was daar 'n afname in misdaad op plase, maar met die minder streng vlakke van die inperking en die aandklokreël, wat nie meer in plek was nie, het misdaad dramaties toegeneem.  Daar is ook rooiligte, wat flikker rondom die erge graad van brutaliteit waarmee mense tydens aanvalle op plase en kleinhoewes gemartel word.  OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê die ander kwessie wat die regering  moet aanspreek", is die skep van 'n klimaat waar die ekonomie sal gedy en waar beleggers graag  plaaslik wil belê en weet dit is 'n veilige keuse en dat hulle 'n goeie opbrengs op hul kapitaal sal ontvang. Dit is egter ver van die werklikheid af omdat Suid-Afrika wetgewing het wat na die tafel gebring word, soos onteiening van eiendom sonder vergoeding. Dít skrik beleggers af.  

Misdaad en die land se wankelende ekonomie is twee groot hooftake wat die regering moet aanpak, maar daar word nie daarin geslaag nie. Van Zyl meen dit beteken baie probleme vir die land. Almal wil Suid-Afrika red, maar Van Zyl meen hy beleef telke male dat die ANC homself eerder wil red.  Dit is 'n hartseer kwessie en daar sal ingespring moet word om Suid-Afrika te "stabiliseer".

Die regering is afwesig as die belangrikste betrokkene om  veiligheid en 'n ekonomiese klimaat in Suid-Afrika te skep. 

Van Zyl sê daar is ook groot frustrasies ten opsigte van die Covid-19-pandemie. Hy dien op die taakspan wat koppe bymekaar sit en saamwerk om  die pandemie se impak op landbou die stryd aan te sê. Daar is egter 'n groot kopseer omdat konstruktiewe insette gelewer word, maar dit kom nie van die grond af nie.  

TLU SA se halfjaar misdaadstatistieke toon daar is vanjaar al 26 moorde op plase gewees. Altesaam 141 aanvalle is aangemeld.  Genl. maj. Chris van Zyl, TLU SA se adjunk-hoofbestuurder sê daar was wel 'n afname in geweldsmisdade toe die strenger inperkingsmaatreëls van krag geword het. TLU SA het tussen Januarie en Maart vanjaar 71 aanvalle en 14 moorde aangeteken. Sedertdien was daar 'n styging van geweldsmisdade tot dieselfde vlakke as voor die inperking en tussen April en Junie vanjaar was daar 68 aanvalle en 12 moorde onder die boeregemeenskap gepleeg. 

Intussen het die Vryheidsfront Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, die polisie se nuutste benadering tot moorde op plase verwelkom.  Hy sê daadwerklike pogings om landelike beveiliging op te skerp word nou aangewend met R3,7 miljard wat tot die polisie se aansuiweringsbegroting toegevoeg is.  Hy sê in baie gevalle skend swak polisie-optrede die vertroue van die publiek, maar daar is steeds pligsgetroue en eerbare polisielede. Die Vryheidsfront Plus het die grootste waardering daarvoor en dié party sal voortgaan om diegene in die polisie wat dit verdien. te salueer. Daar sal ook voortgegaan word om kritiek te lewer in 'n poging om toe te sien dat "vrot appels" verwyder word. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.