On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

OG moet R1,2 miljard se regeringsdroogtehulp ondersoek

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Mon, 27 Jul 2020

 OG moet R1,2 miljard se regeringsdroogtehulp ondersoek | News Article

Die DA het aangeklop by die Ouditeur-generaal met betrekking tot vorige droogtehulp vanaf die regering, wat in die 2018/19-boekjaar beskikbaar gestel is.


Dié politieke party se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Annette Steyn, sê daar is R6 miljard in daardie stadium toegeken. Daarvan was sowat R1,2 miljard aan landbou vir droogtehulp, maar dit is nie op grondvlak versprei nie. Dit kom nadat die regering se nasionale rampbestuursentrum onder hewige kritiek deuroop rakende sy besluit om die klassifikasie van droogte as 'n nasionale ramp te herroep. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Steyn gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Steyn sê 'n brief in dié verband is nou aan die Ouditeur-generaal gerig om ondersoek in te stel. Sy is van mening dat selfs die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, bewus daarvan is dat geld wat beskikbaar gestel word aan die regering, nie gemeenskappe in dié bedryf op grondvlak bereik nie. "Ek dink dit is waarom sy (Didiza) die onderwerp in dié stadium vermy."

Die DA wil ook hê die Ouditeur-generaal moet die opheffing van die droogte as 'n nasionale ramp ondersoek. 'n Brief is ook aan Didiza geskryf waarin die DA vra dat inligting verskaf moet word oor die navorsing wat gedoen is, wat aanleiding tot die nasionale rampbestuursentrum se besluit gelei het.  Die kriteria wat gebruik is en met wie in dié verband beraadslaag is, moet ook deur die landboudepartement verduidelik word.

Steyn sê in gesprekke met die departement het dit na vore gekom dat die nasionale regering nie werklik meer die droogte as 'n ramp beskou nie. Hulle is van mening dat dit nou "'n nuwe stelsel is", waar die klimaatsverandering en droeër weerstoestande in die westelike gedeelte van die land teruggekeer het na normaal. Dit is juis daarom dat die regering nie meer geld beskikbaar gaan stel daarvoor nie omdat dit 'n normale situasie is."

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa verlede week aangedui die ouditeur-generaal het oudits gedoen om die misbruik van geld, veral tydens die Covid-19-pandemie, te voorkom. Dit is spesiale oudits. Korrupsie gaan nou daadwerklik ondersoek word deur 'n spesiale sentrum wat daarvoor gestig is. Altesaam nege staatsinstellings is betrokke. Dié sentrum bestaan uit die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat, oftewel (Opod), die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die Valke, die polisie  en misdaadintelligensie, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die spesiale ondersoekeenheid (SOE).  Beweerde korrupsie met die verspreiding van kospakkies,  beskermende toerusting wat verkry word, asook die Werkloosheidsversekeringsfonds, sal ondersoek word. Daar is reeds 36 klagte in verskeie stadiums van ondersoek en vervolging, het Ramaphosa gesê. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.