Agri Hour
#Agri SA wil kosnood verlig met R1 miljard-inisiatief─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Mon, 27 Jul 2020
Die Covid-19-pandemie se impak op Suid-Afrika se ekonomie het 'n groot kosnood tot gevolg.
Sedert die begin van die nasionale inperkingstydperk het mense wat aangedui het dat hulle hongersnood ervaar, van 4,3% tot 7,0% toegeneem. Kosnood is 'n werklikheid in Suid-Afrika en daarom het Agri SA, in samewerking met sy provinsiale affiliate wat boere en korporatiewe instansies insluit, al R100 miljoen se hulp aan honger mense verleen. Dit is sedert die inperkingsregulasies in plek is. Dié bestaande hulp word deur dié organisasie se surplushulpveldtog, moontlik gemaak, maar dit word nou verder geneem met Agri SA se R1 miljard kosinisiatief. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Agri SA se ramprisikobestuurder, Andrea Campher, hieroor gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Sy sê daar is begin om kos aan gemeenskappe wat in nood verkeer en nie kos het om te eet nie, se behoeftes te voorsien. Die R1 miljard voedselinisiatief is van stapel gestuur en die regering, asook die private sektor, word aangemoedig om by te dra tot dié insitiatief om voedselonsekerheid in arm gemeenskappe aan te spreek. Campher sê enige donasies, borgskappe of voedselhulp word verwelkom. Dié skenking kan gemaak word aan Agri SA se surplushulpveldtog. Gemeenskappe wat in 'n gunstiger situasie is, word ook aangemoedig om by plaaslike nie-regeringsorganisasies , kerke en welwillendheidsaksies betrokke te raak. R1 miljard is nou 'n groter mylpaal wat Agri SA wil bereik.
Natuurrampe, klimaatsverandering, werkloosheid, ‘n resessie, arbeidskonflik en grondonteiening sonder vergoeding, asook ‘n swak ekonomie, is uitdagings wat die land op ‘n groot skaal ervaar. Die voortslepende droogte het ook daartoe bygedra. Statistieke SA (Stats SA) het 'n opname gedoen oor die impak van dié pandemie op werksgeleenthede en inkomstes in Suid-Afrika, soos op 20 Mei vanjaar.
Dié opname toon gebiede in die Noord-Kaap, Noordwes en Mpumalanga bevat steeds die meeste huishoudings wat voedseltekorte ervaar en die Oos-Kaap is die provinsie wat die ergste voedselonsekerheid ervaar. Meer as 70% van die huishoudings in dié provinsie spandeer minder as R1 000 per maand aan kos, terwyl slegs 7,6% van die huishoudings in die meer welgestelde provinsies soos Gauteng bykans R3 500 per maand tot hul beskikking het om aan kos te bestee.
Volgens haar is daar meer as 13,7 miljoen mense, sowat 24,9% van die bevolking, wat nie toegang tot voldoende kosvoorraad het nie en daar moet daadwerklik nou ingegryp word om die volle omvang van voedselsekerheid en voedselvoorsiening aan te spreek.
OFM-nuus
