On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agri Hour

Moorde op Brand-gesin skok Noord-Kaapse gemeenskap

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Wed, 29 Jul 2020

Moorde op Brand-gesin skok Noord-Kaapse gemeenskap | News Article
Die Brand-egpaar Danie en Breggie en hul dogter Elzabie (heel links). FOTO: Sosiale Media

Die wrede aanval, roof, ontvoering en moord op Danie Brand, sy vrou, Breggie, en hul dogter Elzabie, op 'n kleinhoewe in die Magogong-gebied by Hartswater in die Vaalhartsbesproeiingskema in die Noord-Kaap, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.


Johan Stoltz, bevelvoerder van die Vaalharts-gemeenskapsveiligsheidseenheid, het gisteraand aan OFM-nuus gesê dit is traumaties vir die gemeenskap en dit is nie 'n maklike situasie nie. Stoltz het ook gisteraand bevestig al drie dié gesinslede se liggame is gekry en vyf verdagtes is aangekeer. Dié eenheid was nou betrokke by die soektog en die polisie-ondersoek. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het gisteroggend met Stoltz gepraat... 


Sien onderstaande PODCAST 


Volgens Stoltz vat 'n aanval van dié aard aan 'n gemeenskap. Dit is hartseer dat mense wat afgetree is, en 'n "stil lewe gelei het"  sonder om iemand te pla, geteiken is. Dit was duidelik op die toneel dat mense toegang tot die huis op die kleinhoewe verkry het. Tekens wat in en rondom die huis was, het daarop gedui dat die drie slagoffers ernstig beseer is. Twee voertuie wat aan die slagoffers behoort, is ook deur hulle aanvallers gebuit. "Die aanvallers het vermoedelik die gesin in 'n motor gelaai en weggery."  

Bure het gesien 'n motor ry, maar het nie onraad vermoed nie. Volgens hom het die slagoffers se ander dogter Maandagmiddag laat steeds gesukkel om haar geliefdes op die kleinhoewe in die hande te kry. Sy het toe gevra dat iemand ondersoek gaan instel. Dit is toe dat dit duidelik was dat hulle aangeval en aangerand is. Die egpaar en hul dogter was nêrens op die kleinhoewe te vinde nie.

Volgens  Stoltz is reaksie-eenhede Maandagmiddag geaktiveer in die gebied. Paaie is afgesper, maar betrokkenes het vinnig besef dat die voorval vroeër plaasgevind het. Die Brand-egpaar se bure is ondervra, maar daar is steeds voortgegaan met die ondersoek in samewerking met die polisie. Maandagmiddag is een van die beweerde gesteelde motors gekry. Polisiebeamptes het ook die ander beweerde gesteelde motor naby Taung in Noordwes sien ry. Hulle het dié motor agternagesit en sowat 20km verder voorgekeer. Volgens hom is vier mense aangekeer wat aan die polisie en lede van die eenheid gaan wys het waar hulle Elzabie se liggaam gelos het, nadat sy na bewering eers vermoor is.  Hulle het glo ook aangedui waar die ander twee slagoffers se liggame gelos is. Die liggame is in 'n rowwe terrein gelos wat baie bebos en klipperig is. Die soektog na die Brand-egpaar se liggame is Maandag voortgesit.


OFM-nuus




Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.