Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Thu, 30 Jul 2020
Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.
Sien onderstaande PODCAST
Hy praat oor die ekonomiese herstel ná die Covid-19-pandemie en kollektiewe wyshede wat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) beskikbaar stel. Dié sewe aspekte is waardevol. Daarin word onder meer uitgelig hoe die vierde industriële revolusie ingespan kan word, die versterking van streeksontwikkeling, die heroplewing van globale samewerking, die ontwikkeling van volhoubare besigheidsmodelle, en die herstel van omgewingsgesondheid. Daarmee saam word die herontwerp van sosiale gedrag by wyse van veranderde vaardighede en werkgeleenthede en hoe ekonomiese heropbou aangepak kan word, ook uitgelig.
Hy sê dit is gemene saak dat die pandemie ekonomieë in ‘n selfvernietigende spiraal van inkorting gedompel het, maar terselfdertyd ook gewys het na die voordele van verminderde besoedeling, omdat industrieë of gesluit is of teen halfpas voortgaan met hul bedrywighede.
Mense is dood en gemeenskappe is vernietig, maar daarmee saam is die impak van waar mediese en sosiale netwerke/vangnette gefaal het, bewys. Hoewel dit dalk algemene kennis was vir die veronderstelde begunstigdes, het die pandemie die blinde oog van die staat, wat daarvoor moes sorg, blootgelê.
In baie gevalle is die leemtes beken, maar daar wag nog ‘n harde aarde-toe-kom-werklikheid vir diegene wat die pandemie wil blameer vir die afwesigheid van basiese dienste deur die regering. Die feit dat die pandemie voor die voet vat, was ‘n noodsaaklike gelykmaker. Die ná pandemie heropbouproses kan egter nie besigheid soos normaal wees nie.
Enkele van die sewe aspekte gaan bolangs aangesny word. Een van die belangrikste daarvan, is die rol wat tegnologie gaan speel. Hoewel ondersteunende tegnologie reeds voor die pandemie aangewend is, was owerhede baie traag by die skep van ‘n ondersteunende beleidsraamwerk vir die ontsluiting daarvan. Die pandemie het die slapendes wakker geruk, en dit is verbasend oor wat nou gedoen kan word om toepassings in dié verband wettig te maak, sê Laubscher. Een van die baie toepassings is die naspeurvermoë van mobiele tegnologie en vanweë die fatale aard van die onvermoë om mense met die virus te isoleer en kontakte op te spoor, is die toepaslike tegnologie toegelaat. Dit sal nodig wees om meer kundigheid op beleidsvlak te hê vir vaartbelynde toepassings.
Samewerking op streeksvlak soos binne SADEC is ‘n gegewe en om daarmee te wag, sal aanvanklike herstelopsies beperk, maar belangriker ook die streke van ontwikkelingsgeleenthede weerhou.
Hy meen die klem sal moet val op groei, veerkragtigheid en hopelik kan Amerika en China hierin leiding neem, veral namate die spanning tussen die twee moondhede kan ontlaai.
Besigheidsmodelle sal herontwerp moet word en meer sal bewillig moet word in die welsyn van die mense betrokke om nuwe krisisse beter die hoof te bied. Covid-19 het die mensdom onverhoeds betrap en dit is duidelik dat niemand voldoende toegerus was nie. Aspekte soos onder meer voedselsekuriteit en gesondheid, sal bepalende insette word.
OFM-nuus
PRESENTER OUTRO: Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, slegs op die Agri-Uur. Om weer na dié insetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en die Agri-Hour. Skakel ook weeksdae in om 11:00 en 13:30 vir jou landbounuusbulletins, slegs op OFM.
