On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

'Genoeg is genoeg' - Vaalhartsgemeenskap ná Brand-moorde

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 01:37 Fri, 31 Jul 2020

'Genoeg is genoeg' - Vaalhartsgemeenskap ná Brand-moorde | News Article

Gemeenskapslede van Magogong, Hartswater en Jan Kempdorp het Donderdag met die eerste hofverskyning van vyf verdagtes, wat teregstaan op die ontvoering en moorde van die Brand-gesinslede, soos een man opgeruk.


Hulle het 'n protesaksie teen dié aanval en die veiligheidsituasie in landelike gebiede aangeteken.  Frederik van Zyl, veiligheidsverteenwoordiger van die Vaalharts-landbouvereniging, sê tussen 200 en 300 mense het voor die hofverskyning in Vaalharts saamgekom en in 'n konvooi na die polisiekantoor en die landdroshof gery. Hulle het toe buite die hof saamgedrom en protes aangeteken teen die vrylating van dié verdagtes. Danie Brand en sy vrou Breggie en hul dogter Elzabie is  Sondag in hul huis op 'n kleinhoewe by Hartswater aangeval en toe ontvoer. Elzabie se liggaam is Dinsdag in die vroeë oggendure in 'n veld naby Taung in Noordwes gevind, waarna haar ouers se lyke dieselfde dag 'n ent verder in dié bebosde gebied gekry is. Van Zyl sê dit was goed om te sien hoe die gemeenskap kan saamstaan. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê daar was motors, bakkies en selfs trekkers wat deel van die konvooi was. Mense was sigbaar met baniere, waarop hulle onder meer geëis het dat borgtog nie aan die verdagtes,  Tshepho Visagie, Donald Seoleseng, Tshepaone Melato, Kgomotso Mpulwana en Realeboga Manyedi, toegestaan word nie.

Plaaswerkers was ook teenwoordig met baniere. Hy sê die boodskap is duidelik oorgedra dat plaasmoorde moet stop en dat alle lewens van belang is. Gemeenskapslede het buite die hof 'n duidelike boodskap uitgestuur dat "All Lives Matter". Dít is die boodskap wat hulle die  wêreld wil instuur, sê Van Zyl. "Genoeg is genoeg, hoeveel boere en mense moet nog doodgemaak word?"

Hy sê iets moet nou drasties gedoen word en daar is hoop dat die boodskap duidelik uitgestuur is met dié protes.  Daarmee saam is die samewerking van alle betrokkenes nou van groot belang, terwyl die polisie  'n groot rol speel.

Namens die gemeenskap wil Van Zyl aan die Brand-gesinslede se naasbestaandes die versekering gee dat hulle deur die gemeenskap ondersteun word. "Ons staan agter hulle."  

Hy sê dit moes vir die vermoorde Brand-gesinslede se naasbestaandes wat die hofverrigtinge bygewoon het, uiters traumaties gewees het om te sien die verdagtes wat moontlik verantwoordelik is vir hul geliefdes se dood, stap die hof binne. Volgens Van Zyl, wat self dié verrigtinge bygewoon het, was die Brand-egpaar se twee dogters Heidie Taljaard en Trudie de Beer daar.  Dit is te verstane dat hulle baie emosioneel was.   

Die protesaksie het in sy mening baie goed afgeloop en daar was geen voorvalle gewees nie.  Die verdagtes bly in aanhouding en hul borgtogaansoek is na  13 Augustus uitgestel. 

Van Zyl sê die gemeenskap sal voortgaan om hul vrylating op borgtog teen te staan. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.