Agri Hour
Kommersiële boere kan nie skuld kry vir alles nie, sê Vrystaatse DA─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Mon, 03 Aug 2020
Die gewone politieke retoriek, wat talle in die ANC kwyt raak, is in die Vrystaat se aangepaste landboubegroting gebruik.
Roy Jankielsohn, DA-LPW en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê daar was nie veel veranderinge in die LUR van landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat, William Bulwane, se meer as R712 miljoen begroting nie. Hy sê Bulwane se aanbieding was nie veel verskillend van die vorige jaar se landboubegroting nie, en geld word weer aan dieselfde projekte verskaf. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Volgens Jankielsohn is daar in Bulwane se begroting, wat virtueel aangebied is, dieselfde landbouprogramme as vorige jare uitgelig en geld is toegeken. Hy meen die "gewone politieke retoriek" dui vir hom daarop dat 'n paar duisend kommersiële boere in Suid-Afrika die skuld kry vir meer as 40 jaar se apartheid en 350 jaar van kolonialisme.
Toedienings deur die departement was soos gewoonlik aan regeringsprojekte en kleinboere. Die omstrede Vrede-suiwelprojek het soos vorige jare R20 miljoen uit die begroting ontvang. Bulwane het verder aangedui dié projek het R2,8 miljoen wins getoon. Jankielsohn meen dit is nie 'n groot prestasie nie, want waar koeie gemelk word en waar die regering R20 miljoen per jaar daarvoor beskikbaar stel, is dit basies onmoontlik om nie 'n wins te maak nie.
Hy meen dit is steeds 'n omstrede projek, want buiten vir die honderde miljoene rande wat aanvanklik daarin geploeg is, gee die regering steeds R20 miljoen per jaar vir dié projek en dít om basies 120 koeie te melk. In 'n stadium toe die projek onder die beheer van die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie was, is daar aan 'n maatskappy Edshu, maandeliks R1 miljoen vir die bestuur van dié projek betaal. Jankielsohn meen vir dié bedrag geld maandeliks sal hy die 120 koeie op dié plaas self met die hand melk. Die Vrystaatse landboudepartement het intussen die projek weer oorgeneem, maar die omstredenheid rondom die begunstigdes van die projek bestaan steeds. Hy sê 'n projek kan nie bestaan sonder begunstigdes nie, en die 80 mense wat sewe jaar gelede 'n kontrak met die regering gesluit het om begunstigdes te wees, en ook 51% van die projek te besit, is steeds nie deel daarvan nie. Daarom het dié projek dus nie 'n bestaansreg nie en behoort dit nie geld vanaf die regering te ontvang nie, sê hy.
Jankielsohn het ook voor die Zondo-kommissie van ondersoek verskyn en getuig oor dié projek. Hy sê die ondersoek is slegs deel van 'n groter ondersoek na staatskaping en die Gupta-familie se betrokkenheid, ook by dié Vrede suiwelprojek, is duidelik.
Daar is ook 'n ondersoek deur die Valke, wat al verlede jaar aangedui het hulle is reg om mense weer in hegtenis te neem. Jankielsohn hoop nou daar is vordering in dié verband.
Hy beklemtoon weer dat die probleem rondom dié ondersoeke is, dit word gedoen rondom die rol van amptenare en nie politici nie.
OFM-nuus
