On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Onveilige landelike situasie lei tot breekpunt - #AgriSA

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Mon, 03 Aug 2020

Onveilige landelike situasie lei tot breekpunt - #AgriSA | News Article

Die polisie se jongste misdaadstatistieke is nie 'n ware weerspieëling van die onveilige gevoel wat onder boeregemeenskappe heers nie.


Dit is volgens Tommie Esterhuyse, voorsitter van  Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vir landelike beveiliging, ná die statistieke Vrydag deur die minister van polisie, Bheki Cele, bekend gemaak is. Daarvolgens het moorde op plase en kleinhoewes van die 2017/18-boekjaar op 62 slagoffers, 'n afname in die 2018/19-boekjaar getoon. Altesaam 47 slagoffers is toé vermoor.  Luidens die polisie se statistieke was daar 'n toename in moorde op plase en kleinhoewes in die 2019/20-boekjaar. Volgens Esterhuyse loop gemoedere in die landbougemeenskap hoog. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê die vlaag aanvalle op plase en kleinhoewes, asook die mees onlangse moorde op die Brand-gesinslede, Danie, sy vrou Breggie, en hul dogter, Elzabie, in die Vaalharts-distrik in die Noord-Kaap, het daartoe gelei dat gemoedere in landbougemeenskappe breekpunt bereik het. Die hoë vlak van eiendomsverwante misdaad op plase en kleinhoewes dra ook daartoe by.

Dít is volgens hom duidelik aan die toenemende oproepe wat hy ontvang en boodskappe wat aan hom gestuur word deur boere wat nou 'n daadwerklike optrede eis. Daar is selfs 'n gevoel onder sommiges dat daar tot geweld oorgegaan moet word, maar optrede van dié aard word geensins deur Agri SA ondersteun nie. Esterhuyse sê dit is 'n situasie waaraan aandag geskenk word. Dit word nou moeiliker om dié gemoedere onder landbougemeenskappe te bestuur en Agri SA probeer sy bes om nie geweld in dié verband aan te wakker nie. 

Esterhuyse gee verder erkenning aan die Vaalharts-gemeenskap, wat onder baie moeilike omstandighede verlede week in solidariteit 'n protesaksie gehou het en in 'n konvooi na die hofverrigtinge van die aangeklaagdes in die Brand-moord gery het. Dié gemeenskapslede het hul standpunt duidelik oorgedra, sonder gewelddadige optrede. Hulle het aan die land getoon hoe daar vreedsaam opgetree kan word en dat 'n boodskap uitgedra kan word sonder om te brand en te plunder.  Dié protesaksie, wat goed bygewoon is, was hoofsaaklik teen die vrylating van die vyf verdagtes op borgtog, gewees.  


Akkuraatheid van statistieke

Hy sê daar word nou geskakel met die polisie en diegene wat verantwoordelik is vir die misdaadstatistieke. Agri SA het verlede week met genl. Moeketsi  Sempe, die afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring vergader en die versekering is aan georganiseerde landbou gegee dat die polisie seker maak van sy statistieke. "Ek is tevrede dat die polisie se statistieke 'n baie goeie aanduiding is van wat werklik aangaan, maar ek wil dit ook teen die agtergrond sê dat een plaasmoord een té veel is."


Toename van plaasmoorde in die Vrystaat

Volgens Esterhuyse kan die toename in moorde op plase en kleinhoewes in die Vrystaat toegeskryf word aan oorgrensmisdaad met Lesotho omdat 'n groot deel van die Vrystaat daaraan grens. Moorde word in dié gebied teen die Lesotho-grens in die Vrystaat gepleeg. Daar was egter afsonderlike gevalle die afgelope maand waar drie aanvallers noodlottig gewond is. Boere moes in dié voorvalle hulself beskerm. Ook dit is  'n groot bekommernis, want hierdie optrede kan toeneem, sê hy. Daar is egter meer positiwiteit oor die nasionale polisiekommissaris genl. Khehla Sithole se aankondiging dat ses eenhede,  wat landelike beveiliging of plaasmoorde sal ondersoek, nou van die grond af kom. Dit is deel van die hersiende landelike veiligheidstruktuur. Sithole het ook aangedui die polisie gaan voortaan meer van hommeltuie gebruik maak, wat tot gevolg het dat daar meer mannekrag op grondvlak beskikbaar gestel kan word. Dit word met ope arms deur Agri SA verwelkom, sê Esterhuyse.


Rerservistestelsel

Dié stelsel was hoog op die agenda tydens die vergadering met Sempe verlede week.  Esterhuyse sê die afgelope tien jaar wat hy by landelike veiligheid betrokke is, was daar weinig vordering gemaak in dié verband. Die stelsel was veronderstel om die "ou kommandostelsel" te vervang. Daar word nou vinnig vordering gemaak met dié instelling van dié stelsel en 'n teikendatum is daargestel. Daarmee saam het Agri SA en die polisie 'n komitee gevorm,  waar dié organisasie verteenwoordig gaan word om die instelling van dié stelsel te bespoedig. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.