Agri Hour
#AgriSA: Instelling van reservistestelsel geniet nodige dringendheid─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Tue, 04 Aug 2020
Agri SA is hoopvol dat daar nie meer gesloer gaan word om die polisie se hersiende landelike beveiligingstrategie, wat die reservistestelsel insluit, in werking te stel nie.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vir landelike beveiliging, sê die reservistestelsel gaan tot gevolg hê dat gemeenskappe meer magte het tydens aanvalle op plase en kleinhoewes. Dié tonele sal beveilig kan word deur reserviste. Opleiding van reserviste gaan vir seker tot meer doeltreffende optrede bydra. Dit kom nadat die polisie verlede week met die vrystelling van die nasionale misdaadstatistieke deur die minister van polisie, Bheki Cele, aangedui het dat die instelling van die reservistestelsel nou die nodige dringendheid geniet. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Esterhuyse gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê dit moet in ag geneem word dat ná 'n aanval op 'n plaas of kleinhoewe is die eerste persoon op die toneel normaalweg die slagoffers se naaste bure en sodra boere as reserviste kan optree, gaan hulle baie meer waarde kan toevoeg. In die geval van padversperrings ná 'n aanval sal die reserviste waardevol wees in die sin dat dit juis hulle is wat met gebiede waarin hulle bly, vertroud is. Hulle beskik ook oor die nodige kennis om op te kan tree, wat weer waardevol is ten opsigte van die vloei van inligting. Dit kan ook bydra tot beter verhoudinge met die polisie.
Esterhuyse sê daar is egter kriteria waaraan voldoen moet word om 'n polisiereservis te wees. Daarmee saam sal opleiding plaaslik in gebiede verskaf moet word. Dit sal ook in groepsverband moet plaasvind. Hy is egter vol vertroue dat dié stelsel nou van die grond af sal kom na 'n vergadering wat Agri SA verlede Dinsdag voor die aankondiging van die misdaadstatistieke met genl. Moeketsi Sempe, die afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring, vergader het.
Agri SA en ander betrokkenes plaas volgehoue druk op die polisie vir die instelling van die hersiende landelike beveiligingstrategie. Dit is egter ongelukkig 'n tydrowende proses, sê hy. Daarmee saam het die Covid-19-pandemie ook tot 'n groot mate die implementering van dié hersiende landelike beveiligingstrategie belemmer.
Hy is egter positief dat daar vordering gemaak word in dié verband en wat die reservistestelsel betref, moet die nie uit die oog verloor word dat landbou as 'n vennoot van die polisie rondom dít beskou word nie. Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sithole, het dit bevestig en daarom sal georganiseerde landbou sy kant moet bring en beskikbaar wees om die nodige ondersteuning aan die polisie te verkaf.
Intussen nooi TLU SA Suid-Afrikaners om virtueel deel te neem aan 'n protesoptog teen aanvalle op plase en kleinhoewes. Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA se Veiligheidskomitee en adjunk-president van TLU SA, sê dié organisasie stap op 14 Augustus binne 24 uur virtueel om Suid-Afrika in protes teen die meer as 5 500 aanvalle op plase sedert 1990. Besoek TLU SA se webtuiste vir meer inligting.
OFM-nuus
