On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor and Margaret
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agri Hour

Batsa-hofstryd: Saai hoopvol vir positiewe uitslag

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:48 Wed, 05 Aug 2020

Batsa-hofstryd: Saai hoopvol vir positiewe uitslag | News Article

Die organisasie vir familieboere, Saai, is positief en hoopvol dat die tabakmaatskappy, British American Tobacco SA, Batsa, en nege applikante, 'n sterk saak in sy hofstryd teen die regering het.


Saai is een van die nege applikante, wat tabakboere in die hofgeding teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Dr Nkosazana Dlamini-Zuma, verteenwoordig. Hulle sê mekaar vandag (Woensdag) die stryd aan in die Kaapstadse Hooggeregshof oor die regering se omstrede verbod op die verkoop van tabak. Dié verbod is ingestel weens die Covid-19-inperkingsregulasies om die verspreiding van die pandemie te beperk. Francois Rossouw, Saai se uitvoerende hoof, sê dié organisasie tree op in belang van tabakboere wat 'n bestaan maak uit die verkoop en vervoer van tabakprodukte en hul voortbestaan word nou bedreig. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê Batsa het die hele waardeketting by die hofgeding betrek, want dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika die enigste land in die wêreld is wat die verkoop van tabakprodukte tydens die Covid-19-inperkingsregulasies verhoed. Volgens hom druis dit in teen fundamentele regte wat nie aangespreek is in die Fair Trade Independent Tobacco Association, FITA, se hofgeding nie. FITA het al twee keer bloedneus in die hof gekry. 

Hy sê in Batsa se hofstukke word daar op regte soos menswaardigheid, privaatheid, liggaamlike en psigiese integriteit gefokus. Batsa meen die geding gaan nie oor of mense tydens die inperkingsregulasie moet rook of nie. Dit gaan eerder oor wie die besluite daaroor moet neem. Rossouw sê indien daar 'n besluit geneem is oor die verbod, is dit nodig om dit duidelik te stel wat tot dié besluit gelei het en of dit redelik, rasioneel en proporsioneel geneem is. Rossouw meen die geding kan op gesondheidskwessie neerkom, maar die inligting wat Dlamini-Zuma tot haar beskikking gehad het toe sy die besluit geneem het, gaan ook onder die vergrootglas geplaas word.  Dit is juis daar waar reuse-gapings is, meen hy. Dié data is nie duidelik nie en die regering erken dit. Daarmee saam laat die vraag ontstaan hoe die regering 'n besluit kan neem sonder om konkrete data in te win en dan 'n drastiese inperking daar te stel.

Wat betref die impak van die verbod op die bedryf en hoe dit produsente raak, sê hy daar word pertinent daarna in die hofstukke verwys en die feit dat produksiekwotas reeds gesny is.  Boere se produksiekwotas vir volgende jaar is reeds verminder en hulle gaan sodoende skade ly ten opsigte van hul uitsette. Rossouw sê die regering se standpunt dat tabakverkope daartoe bydra dat minder mense gaan rook, en dat die aksie van die hand na mond verspreiding verminder, is nie konkreet nie.

Daar is studies wat toon minder as 10% mense het opgehou rook in dié tydperk, terwyl die swartmark floreer, sê Rossouw. Hy meen die regering wakker nou handel op die swartmark aan. Nietemin is Saai positief oor die hofstryd en dat Batsa en die nege applikante 'n sterk staak het. Hy meen ook dit is baie meer breedvoerig as die FITA-hofstryd."  


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.