On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agri Hour

Boere Droogtehulp SA gaan onverpoos voort met hulpverlening aan boere

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:39 Thu, 06 Aug 2020

Boere Droogtehulp SA gaan onverpoos voort met hulpverlening aan boere  | News Article
FOTO: Bloemfontein Courant

Boere Droogtehulp SA is nog kliphard aan die werk om hulp aan boere in gebiede, waar die droogte steeds 'n stewige greep het, te ondersteun.


Chris van Beljon, stigter van dié nie-winsgewende maatskappy, sê daar is steeds gedeeltes in die Noord-Kaap en Oos-Kaap, wat nog bittermin en selfs geen reën vanjaar gehad het nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van Beljon gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê later vandeesmaand op 29 Augustus kom 'n groep weldoeners byeen om mielies te skenk in die Gampoep- en Aggeneys-gebiede in die Noord-Kaap. Sowat 40 mense beplan om self met bakkies die mielieskenkings te gaan uitdeel. Dit gaan aan hulle die geleentheid verskaf om self die boere wat dié skenkings ontvang te ontmoet. Dié weldoeners kan dan ook self die situasie rondom die droogte beleef. Hulle kan dan met boere gesels en hulle bemoedig.  

Van Beljon sê in die stadium gaan dit broekskeur met skenkings wat deur gemeenskappe gemaak word. Dit is te verstane weens die impak van die Covid-19-pandemie op mense se geldelike situasie.  'n Derde van dié organisasie se maandelikse inkomste, wat verkry is deur middel van dié skenkings, vind nie meer plaas nie. 

Volgens hom het die beweringe rondom die wanbestuur van geld deur nog 'n organisasie wat droogtehulp verleen, en waarvan Burre Burger aan die stuur is, Boere Droogte Hulp SA ook skade berokken. 

Hy stel dit egter duidelik dat sy nie-winsgewende maatskappy onlangs geoudit is en dat die finansiële state beskikbaar is vir diegene wat dit wil sien.  Daarmee saam gee Van Beljon sy versekering dat droogtehulp, wat aan boere en gemeenskappe verskaf word, gratis is. Geen geld word daarvoor geëis nie. Boere Droogtehulp SA het al selfs boorgate by boere gesink en dit is gratis gedoen. Hy sê dit is vir hom oneties om geld van boere te vra vir donasies wat deur die publiek verskaf word.  

In dié stadium fokus dié organisasie steeds op veevoerskenkings, maar mense in nood wat kos benodig weens die Covid-19-pandemie se negatiewe uitwerking, word ook gehelp. Daar is in sekere gevalle ook boere wat in droogtegebiede nie voldoende kosvoorraad vir hulself het nie. 

Daarmee saam het OFM-nuus Burre Burger al telke male genader vir kommentaar, maar hy reageer nie op OFM-nuus se navraag nie. 

Intussen moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry. Skenkings kan ook gedoen word.  Skakels van organisasies, soos Boere Droogtehulp SA,  Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. 

Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsmerk #LandbouHoop.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.