Agri Hour
#Vrouemaand: Kalahari-sand kleef aan merkwaardige boer se skoene─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Tue, 11 Aug 2020
Suid-Afrika herdenk in Augustus Vrouemaand as 'n huldeblyk aan duisende vroue, wat op 9 Augustus 1956 aan 'n optog na die Uniegebou in Pretoria deelgeneem het. Die optog was uit protes teen die uitbreiding van paswette aan vroue.
Dié historiese optog was 'n keerpunt met betrekking tot die rol van vroue in die stryd om vryheid in die samelewing, Sedertdien het vroue uit alle samestellings gelyke vennote geword in die stryd om 'n nie-rassige en nie-seksistiese Suid-Afrika te vorm. OFM se Agri-Uur fokus daarom vandeesmaand op vroue in die landboubedryf, wat hul staal toon en nie skroom om geleenthede aan te gryp nie. Hester Maasdorp is een van daardie merkwaardige vroue wat uitstaan. Sy swaai die septer op haar en haar man, Deon, se plaas Zuurwater by Aggeneys in die Noord-Kaap, en is 'n heeltydse boer in volle reg. Hester en Deon het albei 'n agtergrond in boerdery, maar die lus en behoefte om self te boer het eers later in hul lewens posgevat. Hester het aan OFM-nuus se Christal-Lize Muller vertel hoe hulle skaap-, boerbok- en beesboerdery van 'n klein begin tot 'n veeboerdery van formaat gegroei het. Sy vertel in hierdie eerste insetsel van 'n reeks insetsels hoe sy te midde van uitdagings en veral die stewige greep van die droogte steeds staande bly.
Sien onderstaande PODCAST
Hester is gebore en het grootgeword op die plaas, Welkom, buite Upington. Haar ouers was veeboere. Ná haar skoolloopbaan was sy vir 17 jaar in die onderwys gewees. Nooit kon sy dink dat sy eendag in boerdery gaan belang stel en haarself in dié veebedryf gaan vestig nie. "Hulle sê as dit in jou gene is kan jy dit nie daaruit uitkry nie." Nadat sy met Deon getroud is, het die egpaar hulle in Aggeneys gevestig. Ook Deon se ouers was veeboere.
"As die sand van die Kalahari aan jou skoene geraak het, dan trek jy maar altyd terug." Sy sê daarmee saam as die kraalmis aan jou skoene vat, is die behoefte om te boer daar en jy kan nie daarvan loskom nie. Boerdery was nou maar eens in haar bloed. Hulle het in Aggeneys gebly en het met enkele boklammers wat hulle aangekoop het op kommunule grond wat hulle gehuur het, begin. Hester vertel van haar eerste boklammer wat sy by haar suster in Botswana gekry het.
Toe sy en Deon begin het met die boerdery, was daar in daardie stadium nie 'n gedagte of geld om op hul eie plaas te boer nie. Met hul boerbokkudde wat vermeerder het op die kommunale grond, moes hulle meer grond bekom. Vriende van die egpaar het destyds die einste plaas, Zuurwater, besit en Hester en Deon het toe 'n stuk grond by hulle gehuur.
Vandaar het Hester se begeerte en die "warmte vir diere" gegroei. Deon het telkens opgemerk hy gaan nog eendag vir hulle hul eie plaas koop. So gesê so gedaan en in Desember 2006, met behulp van 'n lening by die Landbank en die departement van landbou, het hulle die plaas Zuurwater wat meer as 4 900 hektaar beslaan, gekoop.
Hester het nie op haar laat wag nie en terwyl Deon sowat 20km verder op die myn gewerk het, moes sy die boerdery aan die gang hou en het sy haar goed van haarself gekwyt totdat die droogte in 2017 begin het.
Aanvanklik het Hester met 'n dorper-skaapkudde van 20 skape begin. Hulle het dit self aangekoop, weer met die hulp van die Landbank. Daarna het die kudde vermeerder tot 200 toe hulle op die kommunale grond geboer het en later op hul plaas Zuurwater het hulle 'n allemintige kudde van 700 skape gehad. Met die droogte moes hulle hul kudde noodgedwonge verminder tot 150. Van die 80 beeste het sy slegs tien oorgehou. Haar rooikopboerbokke het sy nie verminder nie.
OFM-nuus
