Agri Hour
#Vrouemaand: 'Dit het alles by Dingetjie die boklam begin'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Tue, 11 Aug 2020
Die jare stap aan vir Hester Maasdorp - 'n veeboer in eie reg, wat nie terugstaan om skouer aan die wiel te sit op haar plaas nie.
Dit is Vrouemaand en daarom gesels OFM met vroue in landbou, soos Hester wat aan stuur is van haar en haar man Deon se plaas Zuurwater by Aggeneys in die Noord-Kaap. Hester en 'n plaaswerker is aan die stuur van hul dorper skaapkudde, beeste en hul rooikopboerbokkudde. Sy sê boerdery kom nie sonder uitdagings nie, maar sy pak dit dit aan, al droog haar hoop soms saam met die droogte op. Hester sê sy word kwaad oor dié situasie en worstel daarmee. OFM-nuus se Christal-Lize Muller praat nou in die tweede insetsel van 'n reeks insetsels met Maasdorp, oor boerdery wat in haar bloed is en 'n klein boerboklammertjie wat haar passie vir boerdery vergroot het.
Sien onderstaande PODCAST
Die boerdery-gogga het haar gebyt danksy die rooikopboerboklammer, Dingetjie, wat sy by haar sussie in Botswana gekry het toe die egpaar jare gelede daar gaan kuier het. Hester is dankbaar vir die rol wat "Dingetjie" gespeel het in haar besluit om volstoom te begin boer.
Dié ooilammer het Hester destyds verkluimd in die veld opgetel. Sy het die verkluimde lam, wat piepklein was, aan die lewe gehou en vir Dingetjie in 'n skoenboks oor die grens na Suid-Afrika gebring. Hester het 'n kans gewaag oor die grens en vandaar is die res geskiedenis. Haar passie vir boerdery het daar begin.
Terug na die droogte en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan.
Hester sê as dit by reën kom in dié gebied is dit 'n hartseer situasie. Dit het die afgelope jaar slegs 15mm gereën op Zuurwater en na agt jaar se droogte is dit logies dat 15mm reën geensins genoeg is nie. "Dit is wat dit so moeilik maak in hierdie droogtetye. Die greep van die droogte is erg. Niks groei in die veld nie." Sy sê met die bietjie reën is daar enkele groenigheid, en die Here moet haar vergewe, want sy is nie ondankbaar daarvoor nie, maar omdat daar nie opvolgreën was nie verlep dié bietjie groenigheid en kan dit nie oorleef in die droogte nie.
Sy sê sy is kwaad oor die droogte en is soms selfs jaloers. Weens ander mense se ondankbaarheid oor droogtehulp dink sy baie, "ag Here hier op dié plaas is die pakhuis leeg, die plaas is kaal gestroop deur die droogte." Sy sal elke grashalm wat geskenk word aangryp en dankbaar wees daarvoor, want as 'n mens na honger diere kyk speel velkleur en verskillende rasgroepe nie 'n rol nie.
Dit was Hester Maasdorp 'n veeboer op haar en haar man Deon se plaas, Zuurwater, buite Aggeneys in die Noord-Kaap. Skakel Dinsdagoggend in op die Agri-Uur tussen 05:00 en 06:00 wanneer Hester verder gesels oor vrouwees in landbou, die belang van samewerking tussen gemeenskappe. Sy sê al werk sy self op die plaas behou sy haar vroulikheid, en bly 'n eggenoot vir haar man en 'n ma vir haar kinders. Haar liefde vir diere vergroot by die dag.
OFM-nuus
