Agri Hour
Twee taakspanne fokus nou op landelike veiligheid─── CHRISTAL-LIZE MULLER 10:47 Thu, 13 Aug 2020
Twee onderskeie taakspanne, wat uit verteenwoordigers van Agri SA en die polisie bestaan, gaan hulle nou met die nodige erns toespits op landelike veiligheid.
Dit kom nadat 'n suksesvolle vergadering tussen verteenwoordigers van dié landbouorganisasie en die polisie se topstruktuur, onder leiding van Moeketsi Sempe, afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring, goed afgeloop het. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vir landelike beveiliging, oor dié taakspanne gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die goeie bestaande samewerkingsooreenkoms tussen Agri SA en die polisie op 'n hoë vlak is op dié vergadering versterk. Dit in 'n poging om uitdagings rondom landelike veiligheidskwessies aan te spreek. Hy sê die eerste taakspan wat saamgestel is, gaan fokus op die onwettige jag van wild met honde. Dit is volgens hom 'n reuse-probleem in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, asook in die Vrystaat. Nog 'n taakspan gaan hom toespits op die suksesvolle en spoedige instelling van die reservistestelsel om misdaad in landelike gebiede aan te spreek. Dit is veral aanvalle op plase en kleinhoewes wat groot kommer wek. Esterhuyse sê Agri SA is 'n belangrike vennoot van die polisie en daarom word dié organisasie goed op die taakspanne verteeenwoordig. Hy sê albei organisasies is bekommerd oor die voorkoms van aanvalle op plase en kleinhoewes en daarom sal dié reservistestelsel so spoedig moontlik in plek gestel moet word. Daarmee saam sal wit- en bloulig patrollies deur die polisie in samewerking met boere en Agri SA gehou word.
Die reservistestelsel moes al jare gelede in plek gestel word om die ou kommandostelsel te vervang, sê Esterhuyse. Daar is in dié stadium nog nie 'n sperdatum vir die instelling daarvan vasgestel nie, maar hy gee sy versekering dat 'n reservistestelsel in samewerking met die polisie nou sterk op die voorgrond is en daar word aandag daaraan geskenk sodat die stelsel spoedig in werking tree.
OFM-nuus
