Agri Hour
Hier is van jou hoof-landboustories op OFM─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:20 Fri, 14 Aug 2020
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Christal-Lize Muller lig nou die hoofstories wat vandeesweek op OFM uitgesaai is, uit.
Agri SA en die polisie span nou saam om landelike veiligheid oor die land heen te versterk. Dit kom nadat 'n suksesvolle vergadering tussen verteenwoordigers van dié landbouorganisasie en die polisie se topstruktuur, onder leiding van Moeketsi Sempe, afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring, onlangs gehou is. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vir landelike beveiliging, sê die goeie bestaande samewerkingsooreenkoms tussen dié betrokkenes is op dié vergadering versterk. Dit in 'n poging om uitdagings rondom landelike veiligheidskwessies aan te spreek. Twee taakspanne is op dié vergadering saamgestel, waarvan een taakspan fokus op die uitdagings rondom die onwettige jag van wild met honde. Esterhuyse sê Agri SA is 'n belangrike vennoot van die polisie en daarom word dié organisasie goed op die taakspanne verteenwoordig.
In nog 'n storie sé die rooivleisbedryf dit is vir hom bemoedigend dat die produsenteprys van lewende hawe te midde van die Covid-19-pandemie die afgelope paar weke 'n toename toon. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie, RPO, sê dit dra by tot die goeie situasie waarin die rooivleisbedryf homself nou bevind. Schutte sê die goeie prys wat produsente behaal vir hul diere, kan onder meer toegeskryf word aan verbruikers se verbeterde kontantvloei weens die feit dat baie mense van die huis af werk. Daarmee saam is daar 'n goeie persepsie van rooivleis wat ook bydra tot 'n toename in die vraag na rooivleis. Schutte sê die bek-en-klouseer situasie in Limpopo is ook onder beheer en bedrywighede op die eiendomme waarop dié virussiekte uitgebreek het, gaan weer voort.
En... aanwysings vir veilings van lewende hawe is deur die Landbouprodukte Agenteraad, APAC, in samewerking met die regering in die Staatskoerant gepubliseer. Francois Knowles, registrateur van APAC, sê dié aanwysings het ten doel om veilings doeltreffend te laat funksioneer te midde van die Covid-19-pandemie. Hy sê die ontwikkeling en instelling van dié aanwysings het ten doel om veilings suksesvol te laat funksioneer sodat alle betrokkenes se gesondheid nie in gevaar gestel word nie. Dié aanwysings, wat aan die Wet op Rampbestuur moet voldoen, dien dus as 'n riglyn waarvolgens Covid-19-protokol by 'n veiling moet plaasvind. Dit sluit onder meer in die voorbereiding van die veilingsgronde voordat die veiling plaasvind, sowel as maatreëls wat tydens die veiling moet geld.
Knowles sê tydens veilings geld regulasies soos onder meer dat slegs 50 mense wat in die ring toegelaat word. Die nodige afstand tussen mense moet gehou word. Sanitasie is ook van belang.
Om weer na hierdie nuusinsetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en the Agri-Hour. Kliek op News vir jou jongste nuus in die landboubedryf wat weeksdae in OFM se landbounuusbulletins om 11:00 en 13:30 aan jou gebring word. Bel Christal-Lize Muller met jou landbounuus by 082-851-8254 of stuur vir haar 'n e-pos na news@ofm.co.za.
OFM-nuus
