Agri Hour
Rosynebedryf gaan van krag tot krag tydens #Covid19─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:01 Mon, 17 Aug 2020
Ekonomieë oor die wêreld heen ly steeds swaar onder die Covid-19-pandemie.
Daar is egter goeie nuus uit die Noord-Kaap, wat die grootste rosynproduserende gebied in die land is. Dié bedryf gaan van krag tot krag met 'n toename in die vraag na dié heerlike gedroogde druiwe oor die wêreld heen. Ferdie Botha, algemene bestuurder van Raisins SA, sê tydens dié tydperk het verskepingsvolume op 'n jaar-tot-jaar grondslag 'n toename getoon na die plaaslike bedryf se grootste internasionale markte, OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
VolgensBotha kan die toename in die vraag na rosyne toegeskryf word aan verbruikers wat terugkeer na die verbruik van noodsaaklike produkte. Dit sluit in produkte soos rosyne wat 'n langer rakleeftyd het, nie-bederfbaar is, en waarde vir geld aan verbruikers bied. Dit is ook 'n gesonde produk, sê hy.
Die Suid-Afrikaanse rosynebedryf het ook 'n internasionale mark waarvheen 85% van die plaaslike produk uitgevoer word, terwyl 15% van dié produk plaaslik verbruik word. Daarmee saam is daar 'n verskeidenheid produkte waarvoor rosyntjies aangewend word weens die veeldoeligheid daarvan. Dit is ook 'n gunsteling in verskeie disse.
Volgens Botha is 50% van dié produk vir Europa bestem. Dit sluit lande soos Duitsland, Nederland en Frankryk in. 'n Veldtog is ook onlangs in die Verenigde Koninkryk van stapel gestuur, juis om verbruik verder te stimuleer. Dit is gedoen juis omdat daar potensiaal is in die Verenigde Koninkryk wat die grootste invoerder van droë vrugte op internasionale vlak is. Rosyne word ook na Noord-Amerika uitgevoer, wat Kanada insluit, terwyl goue rosyne na Noord-Afrika-lande uitgevoer word.
Die produksieproses het dié seisoen goed verloop en lewering, wat gewoonlik teen Maart en April is, het betyds plaasgevind voordat die streng nasionale inperking in plek gestel is. Dié produk was toé al reeds aan verpakkers gelewer, wat sowat tien tot 12 maande het om die produk te verwerk en te verpak en oor die wêreld heen te verskeep.
Daarmee saam is die rosynebedryf opgewonde oor sy groeikoers die afgelope vyf jaar, met 90% van dié produk wat afkomstig van die Oranjerivier-gebied in die Noord-Kaap is. Die Olifantsrivier-gebied lewer ook rosyne. Dié gebiede het vir vier jaar agtereenvolgens goeie oeste gelewer. Meer as 85 000 ton rosyne is vanjaar gelewer.
Vir meer inligting oor dié bedryf en heerlike respete gaan na raisinsa.co.za.
OFM-nuus
