Agri Hour
Brande saai verwoesting in Potchefstroom-distrik─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:44 Tue, 18 Aug 2020
Boere in die Potchefstroom-distrik en in nabygeleë gebiede loop sedert Saterdag deur onder verwoestende veldbrande.
Honderde hektare natuurlike veld is al uitgewis. Dit kom nadat verskeie brande Saterdag in sterk windtoestande in die New Machavie en Welgevonden-gebied buite dié stad in die rigting van Stilfontein uitgebreek het. Grond wat aan die Barolong-gemeenskap behoort, het ook in die slag gebly. Boere met brandtoerusting het verbete teen die brande geveg. Working on Fire (WOF) het ook lugondersteuning gebied en water is vanuit 'n vliegtuig oor dié gebied gespuit.
Dié brande is onder beheer gebring, maar gister het nog 'n brand in dieselfde gebied uitgebreek. Boere was teen laat gistermiddag nog op soek na van hul vee wat moontlik die vlamme vrygespring het. Dit is in die stadium onbekend wat die omvang van die skade is.
Skakel later vandag (Dinsdag) in op OFM-nuus se landbounuusbulletin om 13:30 wanneer Kobus Roux, voorsitter van die Potchefstroomse brandbestrydingsvereniging meer inligting rondom dié situasie verskaf.
OFM-nuus
