Agri Hour
Boere Droogtehulp SA moedig dieselskenkings aan─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Wed, 19 Aug 2020
Die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, samel nou kanne diesel in vir onder meer reisdoeleindes om veevoerskenkings aan boere in droogtegebiede in die Noord-Kaap moontlik te maak.
Dié dieselprojek begin vandag en vind in samewerking met Hinterland by sy vulstasie in Bloemfontein plaas. Die projek duur tot volgende week. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Jan Lotz, bestuurder van dié maatskappy se Bloemfontein-tak, gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die vyf liter kanne is beskikbaar. Boere Droogtehulp SA sal vanaf vandag om 07:00 tot 09:00 by die vulstasie wees. Mense wat 'n bydrae wil lewer, kan kanne daar bekom. Dit kan dan by die vulstasie net diesel vul en weer terugbesorg aan lede van dié organisasie. Lotz sê hy sal weeksdae vanaf 07:00 tot 09:00 by die vulstasie beskikbaar wees. Eerskomende Saterdag is hy daar vanaf 07:00 tot 13:00. Dié projek duur tot volgende Saterdag.
Hy sê die dieselprojek is van stapel gestuur omdat skenkings in die stadium nie instroom vir droogtehulp nie. Dit kan onder meer toegeskryf word aan die Covid-19-inperkingsregulasies asook 'n toename in werkloosheid en die land se swak ekonomie. Die diesel wat geskenk word, sal hoofsaaklik aangewend word vir Boere Droogtehulp SA se "Gooi Mielies Projek" wat eersdaags plaasvind. Weldoeners met bakkies en kleiner vragmotors beplan om boere in die Gamoep-gebied in die Noord-Kaap te besoek. Mielievragte gaan aan hulle geskenk word. Lotz sê weldoeners gaan self die vragte mielies aflewer by boere en van die geleentheid gebruik maak om tyd saam met hulle te spandeer. Dit is om sodoende aan weldoeners die geleentheid te bied om self te ervaar wat die droogte se impak op boere is. Die meerderheid diesel wat geskenk is, gaan in dié projek gebruik word, maar ook vir ander projekte wat nog in die pyplyn is aangewend word. Meer as een kan diesel kan geskenk word of geld kan ook inbetaal word in Boere Droogtehulp se bankrekening.
Lotz gee sy versekering dat dié skenkings gratis is aan boere en dit kom wel by hulle uit.
Vir meer inligting besoek Boere Droogtehulp SA se Facebookblad.
Dit was Jan Lotz, bestuurder van Boere Droogtehulp SA se Bloemfontein-tak. Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan kry. Skenkings kan ook gedoen word. Skakels van organisasies, soos Boere Droogtehulp SA, Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus volg die hutsmerk #LandbouHoop.
OFM-nuus
