Agri Hour
Potch-boere werk saam om wegholbrande te bestry─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Wed, 19 Aug 2020
Verskeie wegholveldbrande in die Potchefstroom-distrik het sedert die naweek verwoesting gesaai.
Dr. Kobus Roux, voorsitter van dié distrik se brandbestrydingsvereniging, sê daar was drie groot brande wat Saterdag ontstaan het en na kleiner brande gelei het. Hy sê die totale omvang van die skade is in die stadium nog onbekend, maar daar het bykans 2000 hektaar grasveld in die slag gebly. Geen ernstige beserings is aangemeld nie. Sover bekend was daar ook nie reuse-veeverliese nie. Roux sê boere en hul plaaswerkers het goed saamgewerk en spanne van Working on Fire het ook hul kant gebring. Brande in die New Machavie-gebied en by die Vredefort-koepel is Maandag eers geblus. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Roux gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Volgens hom het 'n brand Saterdagoggend by New Machavie langs die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp uitgebreek. Dit is nog onduidelik hoe dit ontstaan het. Dié brand het later in die rigting van die Vaalrivier gewoed en is later dieselfde middag onder beheer gebring. Weens sterk wind het dit egter deur die nag weer opgevlam. Roux sê altesaam 2 400 hektaar veld het in die slag gebly. Daar was geen lewensverlies nie. Sover bekend het niemand ook brandwonde opgedoen nie.
Skape met brandwonde moes egter van kant gemaak word. Daar is boere in dié gebied wat groot verliese gelei het toe voerbale op landerye deur die vlamme verwoes is. Daarmee saam het hoofsaaklik natuurlike grasweiding, asook aangeplante weiding, afgebrand. Heinings, waterpompe, en pype het in die slag gebly. 'n Boer het ook aan OFM-nuus gesê van sy volstruise kon nie betyds die vlamme vryspring nie. Nog 'n boer se pakhuis met veevoerbale is verwoes.
Roux sê dit is verblydend dat daar goeie samewerking tussen boere in die Potchefstroom-gebied was in 'n poging om die brand te bestry. Dit kon egter slegs met teenbrande bestry word. Dié brand is eers laat Maandag onder beheer gebring en ligte reën Dinsdagoggend vroeg het gehelp om dié brand te blus. Drie brandspanne van Working on Fire-brandspanne in dié distrik het ook hulp verleen. Dit was 'n "moelike brand" om te blus weens die hitte van die vlamme wat deur sterk wind aangeblaas is. 'n Vliegtuig van die Castello-boerdery in dié distrik is ook gebruik om water uit die lug oor lang brandlyne te spuit.
Grasveld wat aan die Baralong-gemeenskap behoort in dié gebied het ook in die slag gebly. Roux sê Working on Fire-spanne en van die boere met hul vuurvegters het ook daar gehelp.
Nog 'n brand het Saterdagoggend kort ná 09:00 buite Potchefstroom by die Carletonville-pad ontstaan toe 'n asgat vermoedelik aan die brand gesteek is, juis op 'n dag wat die brandgevaar-indeks hoog was. Vlamme het oor die Carletonville-pad gespring, maar brandbestryders kon dit keer voordat die vlamme in wildskampe in die rigting van die N12 tussen dié stad en Johannesburg kon versprei.
Roux sê nog 'n brand het Saterdag by die N12 tussen Johannesburg en Potchefstroom in die Frederikstad-gebied buite 'n pakhuis op 'n plaas uitgebreek. Na wat verneem word, is daar aan die buitekant van dié struktuur gewerk toe 'n vonk versprei het. Dié pakhuis het egter nie in die slag gebly nie, maar die brand het versprei tot by die Vredefort-koepel by Lindequesdrif. Sowat 8 000 hektaar grasveld is in dié brand verwoes.
Hy sê in al drie dié groot brande was sowat 1 500 boere en plaaswerkers met brandbestrydingstoerusting betrokke om die vlamme te bestry.
OFM-nuus
