On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:46 Thu, 20 Aug 2020

Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher? | News Article

Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Christal-Lize Muller met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê leierskap vir die noodsaaklike herskikking van die land se ekonomie is nodig, maar dit is nie 'n reëndans nie. Namate die ekonomie begin stabiliseer soos Suid-Afrika deur die verskillende vlakke van inperking weens die Covid-19-pandemie beweeg, is daar met reg kommer oor hoe die herskikking deur die regering beplan word. 

Laubscher sê daarmee saam is die rol wat landbou kan speel in die land se ekonomiese herskikking van onbetwisbare belang, trouens "daarsonder sal die pasiënt sonder een van sy krukke moet klaarkom, al is albei sy knieë spreekwoordelik verlam." 

Hy sê daar is ‘n sogenaamde meesterplan op die tafel, maar dié dreig om vroeg in die proses te ontspoor, omdat belangrike kragte binne die sektor nie volledig genoeg verreken word nie. Die staat is niein staat om die heropbouproses alleen aan te pak nie, en waar die private sektor kan en wil saamwerk, geld voorskrifte wat sulke inisiatiewe kan laat wegskram.  

Daarmee saam is dit algemene kennis dat die meeste ingrype vanaf regeringskant weens verskeie redes hopeloos gefaal het, maar nogtans bly die betrokke departemente tegnies in die pad van wat redelikerwys gedoen moet word. 

Hy meen vorige strategiese beplannings het begrotingsbesteding gelei wat telkens doelwitte gemis het.  Die instelling daarvan is en was deurspek met onbeholpenheid, maar is afgedwing deur middel van die mag van die swaard – die staat het in baie opsigte deur middel van wette en regulasies uitkomste probeer rig, sonder om die teiken te tref. 

Opkomende landbou het nie eers gebly waar dit was nie, vir baie is aanvanklike drome in ellende gedompel. Daardie planne het in die meeste gevalle nie naastenby gewerk by die aanspreek van dié  geldende uitdagings nie. Om dus nou onder omstandighede van beperkende fiskale vermoë daardie planne spreekwoordelik te wil afstof vir implementering nou met die pandemie, grens aan kriminaliteit.  Daar word groot gewag gemaak van ‘n nul-basis benadering tot nuwe begrotings, maar die samestelling van besteding van die minder geld tot die beskikking van die regering dui op verdere lompheid. 

Hy sê wat  nou nodig is, is leiding van die moontlike.  Om dit te laat geskied, moet ander en meer vrae gevra word.  Moontlike oplossings is dikwels oorsien, omdat alle tersaaklike moontlikhede nie behoorlik beredeneer is of kon word nie.  Die uitgangspunt was om die probleem tegnies te "panel beat", totdat dit uitloop op een antwoord vir so ‘n uitdaging. Wat nou nodig is, is om alternatiewe te ontwikkel waaruit gekies kan word en om te waag met wat dalk tot nou toe as die onmoontlike geëtiketteer is.

Dit was die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, slegs op die Agri-Uur. Om weer na dié insetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en die Agri-Hour. Skakel ook weeksdae in om 11:00 en 13:30 vir jou landbounuusbulletins, slegs op OFM. 


OFM-nuus






Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.