Agri Hour
Wynbedryf werk aan #Covid19-rampherstelplan─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:02 Thu, 20 Aug 2020
Die horlosie kan nie teruggedraai word nie met betrekking tot die skade wat aan die wynbedryf berokken is weens die regering se Covid-19-verbod op die handel van drank.
Die skade is aangerig en daar word nou vorentoe gekyk in 'n poging om die stukke op te tel en die bedryf op te bou. Dít is volgens Maryna Galow, kommunikasiebestuurder van Wines of South Africa, nadat die drankverbod intussen deur die regering opgehef is. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Galow gepraat...
Sien ondertaande PODCAST
Sy meen babatreë sal geneem moet word op die pad na herstel en dié proses sal versigtig hanteer moet word. Die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse publiek en verbruikers is noodsaaklik. Met dié ondersteuning sal die bedryf in staat wees om stelselmatig weer op die been te kom. Daar word nou ook gesprekke gevoer met die Suid-Afrikaanse regering rondom dié rampherstelplan en dit word aangespreek op 'n Nedlac-vlak (die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad). Planne word nou beraam om geldelike hulp aan dié bedryf te verleen, omdat dit die grootste uitdaging is. Daarmee saam sê Galow dit is noodsaaklik dat die herstelproses nou moet begin.
Een van die elemente wat vir die bedryf van groot belang is, is om te verseker dat die Suid-Afrikaanse publiek ingestel is op die verantwoordelike gebruik van drank. "Ons weet dit is 'n probleem in die land en dit sal nou op 'n baie meer ernstige vlak getakel moet word."
Sommige wynprodusente steek ook nou voelers uit om hul wyn na meer lande uit te voer. Sy sê dit is deel van baie produsente se beplanning. Sowat 50% van alle plaaslike geproduseerde wyn is voorheen vir die uitvoermark bestem, met die res van die wyn wat plaaslik verbruik word. Sowat 900 miljoen liter wyn word jaarliks plaaslik vervaardig waarvan die helfte dan uitgevoer word. Galow sê die internasionale aanvraag vir Suid-Afrikaanse wyn en die verbruik daarvan is stabiel teenoor die plaaslike verbruik van wyn. Die aanvraag en dit wat gelewer word, kom ooreen. Talle wingerde word egter in die stadium van kant gemaak, omdat dit nie meer so lonend is vir produsente om wyn te maak nie. Baie produsente wend hulle nou tot die produksie van sitrus, bessies, en selfs neute. Hulle verdien meer geld met dié produkte. Daarteenoor is daar ander wynprodusente wat nou fokus op die uitvoermark om te bepaal of hulle meer geleenthede daar het oor 'n langer termyn.
Sy sê in die afgelope tien jaar was daar 'n afname van 105 000 hektaar na 93 000 hektaar grond in Suid-Afrika waarop wyn geproduseer word. Dit is daarom duidelik dat die wynbedryf krimp, maar dié bedryf bly steeds positief dat dit wat gelewer word, 'n gehalte produk is. Daarom is daar groot fokus om verbruikers in die buiteland te laat verstaan dat Suid-Afrikaanse wyn 'n gehalte produk is.
OFM-nuus
