On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

Hier is van jou hoof landboustories op OFM

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Mon, 24 Aug 2020

Hier is van jou hoof landboustories op OFM | News Article

Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Christal-Lize Muller lig verlede week se top stories in landbou uit.



Sien onderstaande PODCAST


Drie groot brande in verskeie gebiede in die Potchefstroom-distrik het sedert Saterdag verwoesting gesaai. Dr. Kobus Roux, voorsitter van die Potchefstroomse Brandbestrydingsvereniging, sê na raming het altesaam  12 000 hektaar grasveld afgebrand.  Sover bekend is niemand ernstig beseer nie.  Volgens hom is daar ook nie 'n groot getal vee wat in die slag gebly het nie.  Hy meen sowat 1 500 boere en hul plaaswerkers met vuurvegters en brandbestrydingstoerusting was betrokke by die drie onderskeie brande. Die Potchefstroom-distrik se drie Working on Fire-brandspanne het ook gehelp.  Roux sê 'n brand het Saterdag in die New Machavie-gebied langs die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp begin en in die rigting van die Vaalrivier gewoed.

Hy sê boere in dié gebied het groot verliese gelei met skape wat van kant gemaak moes word weens brandwonde. 'n Boer in dié gebied het aan OFM-nuus vertel dat sy volstruise nie 'n vlammedood kon vryspring nie. Sy buurman se pakhuis het ook in die slag gebly. Roux sê boere se skade is groot. In nog 'n brand wat ontstaan het buite Potchefstroom by die Carletonville-pad, is bykans 2000 hektaar grasveld verwoes. Roux sê die brand het vermoedelik begin by 'n asgat wat aan die brand gesteek is. In nog 'n brand wat Saterdag op die N12 buite die stad in die rigting van Johannesburg gewoed het, is sowat 8 000 hektaar weiveld verwoes.

Die kwarantyn wat ingestel is op nege eiendomme in die Vhembe-gebied in Limpopo, nadat beeste daar positief vir bek-en-klouseer getoets het, is opgehef. Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê tien eiendomme is egter steeds onder kwarantyn. Hy sê die departement se veeartsenykundige dienste werk nou saam met dié betrokke boere om die situasie op dié eiendomme op te los. Beheerde slagtings vind steeds plaas en goeie vordering word in hierdie verband gemaak.  Ngcobo het ook bevestig die verbod op die uitvoer van lewende beeste uit Suid-Afrika is deur Botswana opgehef, nadat OFM-nuus verlede week navraag daaroor gedoen het. Hy sê die invoervoorwaardes vir die uitvoer van beeste na dié Suid-Afrikaanse buurland is hersien en daar is oor 'n gesondheidsertifikaat ooreengekom.  Die invoervoorwaardes met betrekking tot bek-en-klouseer sluit onder meer in die isolering van diere vir ten minste 30 dae. Dié voorwaardes is aan die provinsiale veeartsenykundige dienste voorsien en potensiële uitvoerders word aangeraai om met hul plaaslike veeartse te skakel om inligting te bekom.

In nog 'n insetsel: Die waarde van voeraanvullings moet nie onderskat word nie. Dit is volgens Elizna Erasmus, 'n spesialis in dieregesondheid en biosekuriteit by Bupo Animal Health, wat meen met klimaatsverandering en droogtetoestande in die land, is weiding nie altyd gunstig nie. Boere word dan genoodsaak om hul diere te voer. Sy sê daar bestaan egter 'n wanopvatting oor voedingsaanvullings wat in volledige veevoer voorkom en by vervaardigers daarvan verkry word.
Sy sê in talle gevalle is dié aanvullings natuurlike produkte wat in veevoer gebruik word.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.