Agri Hour
Virtuele staptog teen plaasaanvalle, moorde behaal doel─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:44 Wed, 26 Aug 2020
TLU SA se virtuele staptog het alle verwagtinge oorskry.
Dié virtuele staptog in protes teen plaasaanvalle het op 14 Augustus plaasgevind. Dit was virtueel oor 'n afstand van 5 530km, wat dieselfde afstand is as die getal aanvalle op plase in Suid-Afrika sedert 1990. TLU SA se Bennie van Zyl sê die organisasie het in sy doel geslaag om bewustheid te kweek. Dié veldtog het juis dit ten doel gehad om meer druk op die regering te plaas om op te tree teen die aanvalle. Hy sê die aanvalle moet as prioriteitsmisdaad dieselfde aandag geniet as ander ernstige misdade. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
TLU SA is opgewonde oor die groot belangstelling wat die virtuele staptog geniet het. Hy sê die belangstelling was so groot dat die platform op die web in 'n stadium in duie gestort het weens die groot toename van mense wat deelgeneem het. "Ons moes baie planne maak om dit op te los en die mense te huisves op die webtuiste." Daar is 'n "bykomende vermoë" elektronies geskep om belangstellendes wat die veldtog ondersteun het, te huisves. Die veldtog het ten doel gehad om die wêreld bewus te maak van die aanvalle op plase en kleinhoewes, wat die hele landelike gemeenskap lamlê as dit nie spoedig hokgeslaan word nie.
Van Zyl sê meer as 11 000 mense het handtekeninge verskaf ter ondersteuning van dié veldtog en meer as 350 000 mense het die webtuiste tydens die virtuele staptog ondersoek. "Ons is baie dankbaar daaroor en dit is alles positiewe druk, want dit is nodig dat daar konstruktief bewusmaking gekweek word." Die bewusmaking is gemik op plaaslike gemeenskappe asook die regering om sy verantwoordelikheid na te kom en landsburgers te beveilig. Die bewusmaking gaan oor veiligheid van mense self, maar ook hul geestelike veiligheid, meen Van Zyl. Dit handel oor geestelike weerbaarheid van mense, want dit lei daartoe dat hulle positief vorentoe kan beweeg in die toekoms. "Dit moet nooit verlore gaan nie."
Van Zyl meen dié veldtog en gemeenskap wat nou standpunt inneem soos die Hartswater-gemeenskap in die Noord-Kaap en ander gemeenskappe wat hul stem laat hoor, werp vrugte af en dit wil voorkom of die polisie nou meer 'n positiewe gesindheid rondom die kwessie het. Hy sê die feit dat gemeenskappe standpunt inneem en opstaan vir hul veiligheid is 'n "stukkie beleid wat TLU SA vir die afgelope dekade nastreef en beklemtoon dat elke gemeenskap nie 'n organisasie-veiligheidsplan moet hê nie, maar 'n gemeenskapsveiligheidsplan in plek moet hê. Gemeenskappe moet hande vat.
Hy sê TLU SA se virtuele optog het ook baie internasionale blootstelling gekry.
OFM-nuus
