Agri Hour
Sakeman buite gevaar ná skietery op kleinhoewe by Potchefstroom─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Thu, 27 Aug 2020
Dit gaan "wonderbaarlik" goed met die 54-jarige André Marais, 'n sakeman van Potchefstroom, wat láát Dinsdagmiddag herhaaldelik op sy kleinhoewe in die Muiskraal-gebied by dié stad geskiet is.
"André is steeds in die hoësorgeenheid in 'n plaaslike hospitaal. Sy vrou Elsie sê sy dokter is tevrede met sy vordering en hy is vir nou buite gevaar. Volgens die polisie is André tien keer in albei bene geskiet, nadat drie mans laatmiddag die Marais se tuinwerker by sy huis, wat nie ver van sy werkgewer se huis geleë is nie, oorval en vasgebind het. Een van die mans was gewapen. Elsie sê sy en André het by die huis aangekom en opgemerk dat hulle hond in die rigting van hul tuinwerker se huis geblaf het." OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Elsie gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Sy sê alle eer en dank moet aan die Here gaan dat André lig daarvan afgekom het. Sy toestand is stabiel en hy kan nou hopelik stelselmatig herstel. Sy het André Woensdagoggend in die hospitaal besoek en hy is onder omstandighede positief.
Elsie vertel hulle het Dinsdag omstreeks 18:15 by die huis op hul kleinhoewe aangekom. André het hul huis oopgesluit, waarna hy weer buitentoe gegaan het,om ondersoek in te stel waarom hulle hond in die rigting van hul tuinwerker se huis blaf. Elsie het haar motor in hul motorhuis ingetrek en net toe sy die deur wil toemaak het sy geweerskote gehoor. Sy het neergeval en in hul huis ingekruip. Elsie sê sy het dadelik hul buurtwaggroep van 'n skietery in kennis gestel. In daardie stadium het sy nie geweet waar André is en of hy veilig is nie. Die Marais se buurman het vinnig gereageer.
"Ek het net gebid dat die Vader sy hand oor hom (André) hou en dat my man net nie doodgeskiet is nie." Sy sê daar gaan baie goed deur 'n mens se gedagtes in 'n situasie van dié aard. Sy het gebid vir hul veiligheid en dat hulp vinnig sal kom."
Dit was Elsie Marais wie se man verskeie kere in 'n voorval op 'n kleinhoewe geskiet is. Sover bekend is nog niemand in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek klagte van poging tot moord en die diefstal van 'n vuurwapen, nadat die aanvallers met André se vuurwapen op die vlug geslaan het. Dit is die tweede skietvoorval in die Potchefstroom-distrik in 'n bestek van enkele dae, nadat Hennie Niemand, 'n melkboer, op sy plaas gewond is deur 'n verdagte wat op borgtog vrygelaat is. Niemand het egter teruggeskiet en die verdagte is noodlottig gewond.
OFM-nuus
