Agri Hour
#AgriSA positief oor landelike veiligheid─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:51 Thu, 03 Sep 2020
Agri SA is positief oor die verandering wat nou ervaar word ten opsigte van landelike veiligheid in die land.
Dié organisasie waarsku egter dat gemeenskappe in dié verband nie hul hoop op 'n onmiddellike verandering moet vestig nie. Hulle moet steeds waaksaam wees op plase en hulself voorberei op moontlike aanvalle of misdrywe. Dit kom nadat politici hulself vandeesweek in die Parlement sterk teen moorde en aanvalle op plase en kleinhoewes uitgespreek het. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, oor landelike veiligheid gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Esterhuyse sê verandering met betrekking tot landelike veiligheid gaan intree, maar nie in die onmiddellike toekoms nie. Die land is steeds op 'n afdraande pad as dit by landelike veiligheid kom. Daar is egter groot dankbaarheid vir motorfietsryers wat oor die land heen saamgetrek het om bewustheid te kweek rondom plaasaanvalle en misdaad in geheel. Hy vra landbougemeenskappe moet nou deel vorm van dié mense wat die belange van boere en hul werkers op die hart dra. Daarmee saam gee hy ook erkenning aan die polisie wat reeds ses spesiale eenhede gevorm het in landelike gebiede wat groot probleme ondervind. Dit is van die vordering wat op 'n kleiner grondslag gemaak word met die implementering van die hersiende landelike veiligheidstrategie.
Hy sê adjunk-pesident, David Mabuza, het hom uitgelaat teen die situasie rondom aanvalle en so ook Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die portfeuljekomitee vir polisie. Sy het onder meer aangevoer dat landelike veiligheid dieselfde aandag moet geniet as geslag- en gesinsgeweld. Ook Kenneth Mesho, ACDP-leier, het landelike veiligheid uitgelig en hom daarteen uitgelaat.
"Ons verwelkom die feit dat die erns van plaasmoorde, wat reeds in 1998 tot 'n prioriteitsmisdaad verklaar is, nou aangespreek word - ook vanaf 'n politieke vlak."
Plaasaanvalle en moorde neem egter steeds toe, met 'n aanval in Harrismith wat Dinsdag plaasgevind het. Volgens Esterhuyse is 'n tydelike werknemer op die plaas vermoedelik betrokke by die aanval op die eienaar van die plaas. Die verdagte is in hegtenis geneem, nadat die eienaar van die plaas buite sy huis met 'n knopkierie aangerand is. Die landelike beveiligingsplan is egter spoedig ná die voorval in werking gestel. Na wat verneem word, ontvang die eienaar van die plaas steeds behandeling in 'n hospitaal. Die slagoffer se naam word vir eers weerhou, sê Esterhuyse.
OFM-nuus
