On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

#AgriNK pak uitdagings nasionaal aan namens sy lede

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:11 Tue, 08 Sep 2020

#AgriNK pak uitdagings nasionaal aan namens sy lede | News Article

Die rol van 'n georganiseerde struktuur in landbou is nou meer as ooit tevore van groot waarde.


Dit is noodsaaklik vir boere om deel daarvan te wees. So meen Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, wat glo dié organisasie en sy grondvlakstruktuur bied aan boere 'n ideale platform. Dit is veral van belang, omdat enkelinge in die bedryf voorheen hoofsaaklik benadeel is deur politici, swak dienslewering deur die openbare sektor en politieke retoriek. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Jansen gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê die Covid-19 inperking hou ook nadele in, maar organisasies soos Agri Noord-Kaap as 'n affiliaat van Agri SA tree gesamentlik op en neem aksie om kwessies op grondvlak, wat boere benadeel, aan te spreek. Dit was duidelik tydens die nasionale inperking toe landbou een van die min bedrywe was wat homself kon reguleer en aan homself erkende permitte kon voorsien. Hy meen dit is danksy georganiseerde landboustrukture soos Agri SA wat hard agter die skerms gewerk het om dit moontlik te maak. 

Daarmee saam het Agri-SA 'n belangrike rol gespeel in terme van die oopstel van  internasionale markte tydens die grendeltydperk.  Agri SA se onderhandelinge met Transnet en Portnet was suksesvol in dié verband. So is probleme met die invoer van landbouwerktuie, soos trekkers en stropers, ook aangespreek nadat daar 'n oponthoud by hawens was. 

Jansen meen dit is aspekte soos dié wat enkelinge op grondvlak op hul plase benodig,  maar wat nie moontlik is om as enkeling aan te spreek nie.  

Hy gee sy versekering dat Agri Noord-Kaap steeds onverpoos werk en hulp verleen aan gemeenskappe wat deur die  voortslepende droogte geraak word. Dit neem steeds baie tyd en energie op, sê Jansen. Daar is egter talle uitdagings, soos die R35,6 miljoen droogtehulp, wat deur die regering aan die Noord-Kaap, beskikbaar gestel is, maar nog nie versprei is nie.  Dié organisasie werk egter hard om toe te sien dat dié geld versprei word na gemeenskappe wat dit broodnodig het.  Jansen sê daar is egter goeie nuus in terme van R300 miljoen wat deur die departement van waterwese beskikbaar gestel is om die nood te verlig. R85 miljoen van dié geld is aan landbou toegedien en Agri Noord-Kaap werk nou saam met die departement om boorgate te sink. Dit vorder goed en dit is  wonderlik om te sien hoe boere nou water tot hul beskikking het. 

Agri Noord-Kaap gaan ook voort met droogtehulpprojekte met behulp van die private sektor. Veevoer word geskenk aan boere wat dit benodig. Dié hulpverlening strek nou veel verder. Dit het 'n vlak bereik waar boeregemeenskappe humanitêre hulp benodig. Kospakkies, groente en vrugte, word aan mense in nood geskenk. 

Dié organisasie ondersteun ook sy lede in terme van die uitoefening van prospekteerregte waar mynhuise hul reg tot prospektering uitoefen. Agri Noord-Kaap speel 'n rol om toe te sien dat dit wel binne 'n wetlike konteks plaasvind. 


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.