Agri Hour
Veiligheid, beleidsonsekerheid is brandpunte vir #VrystaatLandbou─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:33 Wed, 09 Sep 2020
Die veiligheidsituasie in landelike gebiede in die Vrystaat bly 'n kern-brandpunt waaraan georganiseerde landbou daagliks aandag skenk.
Boere is sagte teikens, terwyl misdrywe oor die land heen toeneem, maar veral in die Vrystaat wat aangrensend tot Lesotho is. Plaasaanvalle en -moorde neem toe en is 'n werklikheid waarvan daar nie weggeskram kan word nie. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê dit is ook kommerwekkend dat nie slegs grondeienaars nou bedreig word nie. Plaaswerkers is ook teikens. Hy sê nog 'n kernbrandpunt vir dié organisasie is beleidsonsekerheid. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê in enige land se ekonomie is beleidsekerheid die kern van die groei van 'n bedryf. Daarom is beleidsonsekerheid steeds 'n groot bron van kommer vir georganiseerde landbou en meer spesifiek VL. Daar is onsekerheid oor die rigting waarin daar in dié verband beweeg word weens "bontpratery" deur die politici. Dit is bekend dat daar verdeeldheid in die ANC as regerende party is en dít veroorsaak verwarring onder boere, wat nie altyd weet na wie daar geluister moet word nie.
Wilken sê wanneer daar met die departement van landbou in die Vrystaat vergader word is die gesprekke positief. Hulle erken die belang van landbou en dat dié bedryf in die Vrystaat die kernbedryf vir werkskepping en ontwikkeling is. Dit is egter hartseer dat daar niks verder gebeur ná die vergaderings nie. Daar is dan nie voldoende kommunikasie nie, en die uitsprake wat daarna gelewer word deur die regering, is nie beleids- en departementeel-gedrewe nie. Dit is idiologies en polities-gedrewe.
Daarom is georganiseerde landbou bekommerd en die situasie veroorsaak groot frustrasie onder boere op grondvlak. Hy sê dit bemoeilik ook VL se werk, omdat hulle na dié vergaderings positiewe terugvoer aan hul lede gee oor besluite wat op vergaderings met die departement geneem is, maar dan word daar 'n demper daarop geplaas deur teenstrydige uitsprake in die media.
Dit is dan moeiliker vir 'n organisasie soos VL om boere op hul gemak te stel en te bemoedig dat daar wel 'n toekoms in landbou is, sê Wilken. Hy sê dit is 'n groot bron van kommer dat die departement nie die beleid wat geformuleer word, prakties en doelgerig uitvoer nie.
Wilken meen dit is uiters noodsaaklik dat daar georganiseerdheid op grondvlakstruktuur by landbouverenigings moet geskied. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Wilken hieroor gepraat...
OFM-nuus
