Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Fri, 11 Sep 2020
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf. OFM-nuus se Christal-Lize Muller lig nou die hoofstories op OFM vandeesweek uit...
Sien onderstaande PODCAST
Die landboubedryf is die enigste sektor in Suid-Afrika wat in die tweede kwartaal van die jaar met 'n 0,3% persentasiepunt 'n positiewe bydraer tot die land se algehele Bruto Binnelandse Produk (BBP) was. Landbou het in dié kwartaal 'n indrukwekkende groeikoers van 15% behaal. Dit kom nadat Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) die BBP van landbou in die eerste kwartaal van die jaar van 27,8% na 28,6 hersien het. Paul Makube, 'n senior landbou-ekonoom by FNB Agri-Besigheid, sê die sterk groeikoers in die tweede kwartaal is ondersteun deur die verhoogde produksie in akker- en tuinbougewasse, asook diereprodukte. Hy meen 'n kombinasie van 'n goeie oes, 'n relatiewe swakker wisselkoers en 'n sterk uitvoervraag het tuinbou se bydrae tot die groei in landbou bevorder. Volgens hom staan die land se verwagte totale produksie van graan en oliesade in die 2020/21-seisoen op 17,85 miljoen ton, wat steeds een van die grootste oeste tot dusver vir Suid-Afrika is.
Daarmee saam het Christo van der Rheede, adjunk uitvoerende direkteur van Agri SA, die landboubedryf se 15,1% groei in die tweede kwartaal van die jaar verwelkom. Hy meen Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se syfers vir die Bruto Binnelandse Produk (BBP) beklemtoon opnuut die belangrike rol wat landbou in die land se ekonomie speel. Van der Rheede sê dié bedryf was gelukkig in die sin dat dit as 'n noodsaaklike diens tydens die Covid-19-inperkingstyd geklassifiseer is. Dit het bygedra tot 'n versterking van voedselsekerheid in die land. Dié strenger inperkingsregulasies het verskeie betrokkenes in bedrywe gedwing om onder uitdagende toestande saam te werk. Landbou was geslaagd in dié opsig, danksy gesamentlike pogings en konstruktiewe skakeling met die regering. Daarom behoort dié bedryf erkenning te kry vir sy vermoë en toleransie om die enigste sektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie te wees wat tydens die inperkingstydperk positiewe groeisyfers kon toon.
Die landboubedryf was 'n baken van stabiliteit en vooruitgang tydens die Covid-19-inperkingstydperk. Dít is volgens Max du Preez, 'n politieke ontleder, wat meen die pandemie en die regulasies wat in plek gestel is, was in 'n mate goed vir landbou gewees.
'n Groep ywerige vroue van die Suidwes Roggeveld-landbouvereniging by Middelpos in die Noord-Kaap bak koekies dat dit bars. Dit is deel van die Hartklophoop koekie-projek wat van stapel gestuur is om aan boere, wat swaartrek weens die voortslepende droogte, se vroue die geleentheid te gee om 'n inkomste te verdien. Terselfdertyd word van die geld wat verdien word deur die koekieverkope in 'n fonds geplaas. Dit word weer aangewend om veevoer aan te koop of selfs geld vir veevoer aan boere te verskaf. Gemeenskappe word ook gehelp daardeur met verskeie projekte wat befonds word. Estelle Steenkamp, wat aan stuur is van dié projek, sê hulle was verlede jaar verbaas oor die positiewe reaksie van Suid-Afrikaners oor dié projek. Die Covid-19-staat van inperking het egter 'n demper daarop geplaas maar die projek is weer volstoom aan die gang en smullekker koekies word gebak en verkoop.
Om weer na hierdie nuusinsetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en the Agri-Hour. Kliek op News vir jou jongste nuus in die landboubedryf wat weeksdae in OFM se landbounuusbulletins om 11:00 en 13:30 aan jou gebring word. Bel Christal-Lize Muller met jou landbounuus by 082-851-8254 of stuur vir haar 'n e-pos na news@ofm.co.za.
OFM-nuus
