Agri Hour
Daar is praktiese oplossings vir mense teen 'aanvalle van regering'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Mon, 14 Sep 2020
Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners op individuele vlak besef die regering is destruktief en rig skade aan op 'n ongekende grondslag.
Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners op individuele vlak besef die regering is destruktief en rig skade aan op 'n ongekende grondslag. Dawie Roodt, 'n senior ekonoom van die Efficient Groep, sê dit is egter belangrik dat gemeenskappe besef daar is praktiese oplossings tot hul beskikking teen dié aanvalle deur die Suid-Afrikaanse regering, wat steeds idiologies onseker is en die land se ekonomie 'n knou gee. In die proses word mense se regte vertrap, veral die reg op die beskerming van private eiendom. Dit was die kernpunt van 'n paneelbespreking op die Nampo Virtuele-handelskou wat deur Roodt gelei is. Prof. Koos Malan, 'n kenner op die gebied van die openbare reg aan die Universiteit van Pretoria, Lourensa Eckard, 'n politieke joernalis, en Jacques Classen, 'n prokureur, het aan dié paneelbespreking deelgeneem. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Roodt gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Dawie Roodt sê dit was noodsaaklik om tydens dié bespreking om uit 'n aantal hoeke na die politieke situasie in die land, te kyk. Malan, wat 'n grondwetkenner is, het dit tydens dié bespreking duidelik gestel dat daar 'n verhouding tussen die staat en die burgers van die land is en indien die verhouding verbreek word, deur die staat óf individue, het albei partye die reg om sekere optredes te regverdig.
Eckard het gepraat oor die nuutste politieke verwikkelinge binne die ANC se drieparty-alliansie. Dit is duidelik dat daar baie politieke konflik is in terme van die leierskap binne dié alliansie en hulle ideologiese oortuigings. Daar is verskillende magsgroepe in dié alliansie en veral georganiseerde arbeid is iets waaroor daar rede tot kommer is. Eckard het ook uitgewys daar is heelwat struikelblokke wat deur hierdie konflik binne dié drieparty-alliansie veroorsaak word en negatiewe gevolge vir die land se ekonomie en mense inhou.
Roodt sê dit laat die vraag ontstaan oor hoe mense hulself kan beskerm teen 'n destruktiewe staat wat ook ideologies onseker is. Classen het dit duidelik gemaak daar is heelwat dinge wat 'n mens kan doen teen dié aanvalle van die regering. 'n Mens kan homself beskerm deur verskeie regsaksies wat beskikbaar is vir individue. Daar is ook 'n ander opsisie vir 'n individu, soos om sy bates op internasionale vlak te diversifiseer.
OFM-nuus
