Agri Hour
Suid-Afrikaners aangemoedig om ou groen vuurwapenlisensies te vervang─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 14 Sep 2020
Ou vuurwapenlisensies, wat nog in die vorm van ‘n groen kaartjie uitgereik is, mag dalk ongeldig verklaar word.
Dit kom nadat ‘n brief, wat deur die staatsprokureur aan die Raad van SA Jagters uitgereik is, dit uiteensit dat hulle van plan is om die hofinterdik van Junie 2009, wat die ou groen vuurwapenlisensies geldig verklaar het, te herroep. Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, sê die raad het hierdie herroeping verwag en het reeds hul lede vooraf gewaarsku om die ou lisensies te vervang deur aansoek te doen vir die nuwe vuurwapenlisensies. Camphor sê die staatsprokureur voer aan dat diegene wat in besit is van dié ou lisensies, genoeg tyd gehad het om hierdie lisensies te hernu, gegewe die feit dat daar reeds drie amnestietydperke verstryk het. OFM-nuus se Elsabé Richard het met Camphor gepraat oor die huidige amnestietydperk, waarvan daar ongeveer 100 werksdae oor is.
Sien onderstaande PODCAST
Camphor sê die huidige amnestietydperk is die laaste van dié amnestietydperke.
Hy sê die staatsprokureur stel voor dat SA Jagters die hofaansoek van 2009 onttrek en instem om die bogenoemde interdik te herroep. Hy sê talle Suid-Afrikaners maak steeds staat op die ou groen vuurwapenlisensies en sal ook, soos lede van SA Jagters, in dieselfde omstandighede wees indien die staat wel die interdik herroep.
Hy voeg verder by dat volgens beskikbare inligting daar ongeveer 670 000 ou groen lisensies geldig kan wees, en in die lig hiervan, dit dalk nie haalbaar kan wees om van die huidige amnestietydperk gebruik te maak om hierdie vuurwapens in te handig en vir nuwe lisensies aansoek te doen nie.
Luidens Camphor het die raad reeds met sy regspan vergader om die pad vorentoe te bespreek.
OFM-nuus
