Agri Hour
Verwagtinge vir rekord-oes nog op die kaarte─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 17 Sep 2020
Vooruitsigte vir ‘n rekord-oes mielies en sonneblom-oliesade vir die 2019/20-seisoen lyk steeds goed.
Luan van der Walt, ‘n ekonoom by Graan SA, sê mielie-oeste lyk veral goed nadat die Oesskattingskomitee meer as 15 miljoen ton voorspel het. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van der Walt gesels oor wat verwag kan word tydens dié seisoen se oes.
Sien onderstaande PODCAST
Van der Walt sê in terme van oliesade lyk vooruitsigte vir die sonneblom-oes redelik goed, met ‘n goeie opbrengs wat verwag word. Hy sê hierteenoor is die vooruitsigte vir die sojaboon-oes ietwat teleurstellend. Dit, nadat daar vir die eerste drie maande van die jaar ‘n mid-somer droogte was wat ‘n negatiewe impak op die sojaboon-produksie gehad het.
“As ons kyk na die ander somergrane, is dit goeie produksie en goeie opbrengste wat gerapporteer word wat vir ons baie positief is,” voeg Van der Walt by.
Van der Walt verduidelik dat ‘n surplus-oes gewoonlik gepaardgaan met laer pryse wat ‘n goeie oorspoel-effek na ander bedrywe kan hê. Hy sê as daar na vanjaar gekyk word, is daar ander aspekte wat ook ‘n rol gespeel het, onder meer die verswakking in die wisselkoers. Hy deel egter dat alhoewel daar ‘n groot oes verwag word, pryse nie so laag is soos verwag word nie.
Verder sê Van der Walt as daar gekyk word na vooruitsigte vir die 2020/21-oesjaar, lyk die moontlikheid vir ‘n goeie reënjaar redelik positief. Hy sê boere in die Noordwes en Vrystaat het reeds begin om landerye voor te berei terwyl ander nog besig is om te stroop.
OFM-nuus
