Agri Hour
Agritoerisme – die nuwe gonswoord─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 28 Sep 2020
Ter viering van Wêreld Toerismedag wat jaarliks op 27 September plaasvind, het Plaas TV aanbieder op Youtube, Lise Roberts, met Christelle van Zyl - ‘n PhD student in Toerismebestuur by die Noordwes Universiteit - gesels oor agritoerisme.
Van Zyl het verduidelik wat presies agritoerisme is en die navorsing wat sy gedoen het in die verband.
Hier is Roberts en Van Zyl…
Sien onderstaande PODCAST
Alhoewel daar nie ‘n definisie vir ‘agritoerisme’ in die HAT-woordeboek verskyn nie, sê Van Zyl hierdie vorm van toerisme het oor die laaste paar jare gegroei.
Sy verduidelik dat agritoerisme enige aktiwiteit kan wees wat ‘n toeris na ‘n plaas lok. Van Zyl sê sy het 47 verskillende aktiwiteite geïdentifiseer wat verdeel kan word in vyf kategorieë.
Sy verduidelik hierdie kategorieë bestaan uit:
Buitelug rekreasie: sluit fietsry en staproetes in
Opvoedkundige ervarings: byvoorbeeld wynproe op ‘n wynplaas
Vermaak: skuurdanse en konserte
Gasvryheidstudies: sluit plaasverblyf in
Direkte verkope: verkoop produkte deur middel van ‘n plaasstal
Van Zyl sê verder die navorsing wat sy gedoen het, het behels om boere in al nege provinsies te vra watter agritoerisme-aktiwiteite hulle aanbied op hulle plase. Sy sê sy het ‘n vraelys opgestel en het terugvoering van 557 boere ontvang, waarna sy plaaslike landbou-organisasies gekontak het.
Die navorsing het getoon dat plaasverblyf heel bo aan die lys is, gevolg deur jag, staproetes, wildbesigtiging, fietsry en plaastoere. Van Zyl sê hierdie aktiwiteite het die potensiaal om by te dra tot werkskepping wat talle huishoudings finansieël sal help.
Sy moedig boere aan om hulself op te voed oor agritoerisme en te kyk na wat hulle reeds op die plaas het wat as aktiwiteit aangebied kan word wat toeriste na die plaas sal lok. “Die trekpunt van agritoerisme is jy hoef nie iets nuuts by te voeg nie, jy kyk na wat [reeds] daar is,” voeg sy by.
OFM-nuus
