Agri Hour
#AgriSA: Fokus moet nou op landelike veiligheid wees─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:55 Tue, 29 Sep 2020
Woede-uitbarstings of neerhalende opmerkings deur die minister van polisie, Bheki Cele, word nie deur Agri SA goedgekeur nie.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van landelike veiligheid by dié organisasie se Sentrum van Uitnemendheid, sê dit is hartseer dat 'n gesprekvoering, wat veronderstel was om konstruktief tussen die landbougemeenskap van Normandien in KwaZulu-Natal en Cele te wees, nou in 'n openbare uitval ontaard het. Dit kom nadat Cele verlede Maandag op 'n imbizo in dié gebied uitgevaar het teen Roland Collyer, voorsitter van die Normandien-landbouvereniging.
Die Sondagkoerant Rapport berig Collyer het onder meer die situasie uitgelig rondom eisers van verblyfreg, wie se beeste op boere in dié gebied se grond wei. Cele het hom daarna van arrogansie en 'n gebrek aan respek beskuldig. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Esterhuyse gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê Agri SA werk al baie lank daaraan om goeie verhoudings met die polisie te bou. Dít in 'n poging om probleme veral rondom landelike veiligheid aan te spreek en om oplossings te vind. Cele se woede-uitbarsting het egter aan dié goeie verhouding skade berokken, maar Agri SA werk hard daaraan om die situasie aan te spreek en beoog nou om met Cele te vergader.
Esterhuyse sê die hele Normandien imbizo het gehandel oor landelike veiligheid, maar het nou in 'n politieke debat ontaard, terwyl die land dit geensins nou kan beskostig nie. Probleme rondom landelike veiligheid moet eerder aangespreek word.
Hy sê Agri SA gaan hom ook wend tot pres. Cyril Ramaphosa en dié organisasie se voorneme om dit met Ramaphosa op te neem is in wording. Dit is nodig om met Ramaphosa self te vergader sodat hy die nodige stappe kan toepas in dié verband.
'n Prioriteitsmisdaad
Esterhuyse sê moorde op plase en kleinhoewes is in 1998 as 'n prioriteitsmisdaad verklaar en die groot bron van kommer daaromtrent is dat dit nie toegepas word nie. Daarmee saam het Cele hom ook uitgelaat en meen dié voorvalle (plaasmoorde) word as 'n gewone moord of roof deur die polisie hanteer. "Ons aanvaar dit nie so nie," sê Esterhuyse. Daar sal ook ander gesprekvoeringe volg met die nasionale kommissaris van polisie, Khehla Sitole, waar dit opnuut beklemtoon sal word dat plaasmoorde reeds as 'n prioriteitsmisdaad verklaar is en dat dit nou so toegepas moet word.
Landelike beveiligingstrategie
Daar is vordering met die instelling van dié hersiende nasionale strategie en Esterhuyse sê hy is positief daaroor. 'n Nuwe afdelingskommissaris, wat oorhoofs in beheer is van die instelling van die strategie, is aangewys en altesaam ses spesiale onderoekeenhede van die polisie is reeds in gebiede waar daar probleme is, gevestig. 'n Meer boere-vriendelike reservistestelsel moet ook ondersoek word en 'n advieskomitee is daaroor saamgestel. Agri SA dien ook daarop en sal insette lewer.
OFM-nuus
