Agri Hour
Stoetkuddes blink uit op eerbewysgeleentheid─── CHRISTAL-LIZE MULLER 06:20 Wed, 30 Sep 2020
Standard Bank en SA Stamboek se Elite-eerbewysgeleentheid was vanjaar van hoogstaande gehalte, al is dit virtueel aangebied.
Dr. Japie van der Westhuizen, algemene bestuurder van SA Stamboek, sê dié geleentheid, wat vanjaar tydens die Bloemskou in April sou plaasvind maar weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls gekanselleer is, word gekenmerk deur verskeie eerbewyse. Hy sê dit het ten doel om erkenning te gee aan die land se top-stoetkuddes. Van der Westhuizen meen dié telers met hul onderskeie kuddes wat genomineer is, en van SA Stamboek se dienste gebruik maak, is beslis die room van die bedryf. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die kuddekompetisie, wat deel is van die Elite-eerbewysgeleentheid, was vanjaar weer 'n hoogtepunt. Erkenning is aan top-stoetkuddes gegee en die grondslag van dié eerbewyse is die akkurate, betroubare en nougesette aantekening van alle data en die toepaslike gebruik daarvan in die betrokke kuddes.
Beverli Katz, teler en eienaar van Klein Sandfontein Boerboele het die top stoetkudde vir honde gewen, terwyl Frikkie en Ansie Combrink van die Tokoza SA-boerperdstoet die eerbewys vir perde ontvang het. Die beste kleinvee stoetkudde het aan Johan Hoffman se Majobe-merinostoet gegaan. Daarmee saam het die top-stoetkudde vir vleisbeeste aan Christopher Melamu van Lamus Bonsmara's in Noordwes gegaan, terwyl die top stoetkudde vir melkbeeste aan die Kluitjieskraal Jerseykudde gegaan het. Van der Westhuizen sê SA Stamboek erken ook die integrering van ontwikkelende boere in die Suid-Afrikaanse stoetbedryf en die Unistel SA Stamboek Ontwikkelende Teler van die Jaar was Bookholane Mokoena, wat naby Nigel in Gauteng boer.
Erkenning is ook gegee aan 'n stoetteler of groep telers wat nuwe toetreders en ontwikkelende stoettelers ondersteun en mentor. Die Farmer's Weekly SA Stamboek Elite mentor-teler eerbewys het aan Johan Erasmus 'n boranteler gegaan.
Daarmee saam is telers, eienaars en melkkoeie se produksiedoeltreffendheid ook gemeet, omdat dit die grondslag vorm van volhoubare wins vir melkbeeskuddes. Koeie van die belangrikste melkrasse het vanjaar in aanmerking gekom vir die SA Stamboek Elite Platinum melkkoeie van die Jaar eerbewys. ’n Koei moet reeds ’n vyfde laktasie voltooi het om in aanmerking te kan kom vir dié eerbewys. Haar kilogram vastestof-produksie per dag van lewe plaas haar in ’n rangorde binne haar ras. Dit beteken dus ook dat koeie bevoordeel word wat vroeg die eerste keer kalf, gereeld kalf, ’n goeie produksie handhaaf en melk produseer, wat gesog is vir die melkkopers. 'n Koei se genetiese meriete speel ook ’n rol.
Daarmee saam is SA Stamboek se omvattende dienste vir melkbeeste, gegrond op nougesette aantekening van alle reproduksie-, gesondheid-, en produksie asook produkgehalte. Die bestuursinligting wat daaruit voortspruit word deur melkprodusente gebruik om tydige besluite te neem om kuddes winsgewend te hou. Dieselfde inligting dien ook as die grondslag van genetiese inligting en om die korrekte seleksiebesluite te kan maak. Daarom gee SA Stamboek se Genetiese Suiwelkudde van die Jaar eerbewys erkenning aan die melkkudde wat duidelike teeldoelwitte nastreef. Dié eerbewys het aan Joubert Fourie van Limpopo se suiwelkudde gegaan.
Dit was dr. Japie van der Westhuizen, algemene bestuurder van SA Stamboek, slegs op die Agri-Uur wat aan jou gebring word deur John Deere. Besoek SA Stamboek se webtuiste om meer van die telers en stoetkuddes wat vanjaar tydens die Standard Bank en SA Stamboek se Elite-eerbewysgeleentheid uitgeblink het, te lees. Die inligting is beskikbaar in die SA Stoetteler-uitgawe.
OFM-nuus
