On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

Vrystelling van staatsgrond skepties verwelkom

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:52 Mon, 05 Oct 2020

Vrystelling van staatsgrond skepties verwelkom | News Article
FOTO: Vrystaat Landbou (VL)

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se beskikbaarstelling van 700 000 hektaar staatsgrond vir landboudoeleindes is wyd in landboukringe verwelkom, maar daar is 'n mate van skeptisisme.


Die landbou-organisasie, Agri SA, beskou die vrystelling van staatsgrond as 'n stap in die regte rigting deur die regering veral ten opsigte van grondhervorming. Annelize Crosby, hoof van Agri SA se Grondsentrum van Uitnemendheid, sê dit is positief dat die regering by 'n punt gekom het dat daar 'n substansiële hoeveelheid staatsgrond spesifiek vir landbou vrygestel word. Sy sê dit moes lankal plaasgevind het. Daar is ook kommer wat daarmee gepaard gaan. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met haar gepraat...


Sien PODCAST onderaan die bladsy


Crosby sê daar is verskeie positiewe punte met betrekking tot dié langverwagte proses. Dit sluit in sprake van 'n huurkontrak van 30-jaar vir begunstigdes van dié toegekende grond met 'n opsie om dit te kan koop. Volgens haar voer dié organisasie al vir jare aan dat indien die regering grondhervorming wil laat geskied, moet daar eerstens op staatsgrond gefokus word. 

Nog 'n positiewe punt is dat die landbouminister, Thoko Didiza, verlede week tydens die bekendmaking van die regering se plan om dié grond vry te stel, gesê het dié proses gaan nie slegs by die beskikbaarstelling van staatsgrond bly nie. Ondersoek gaan ingestel word na ander staatsgrond wat beset word. Dit gaan behels wie die mense is wat op daardie grond werksaam is en wat die bedrywighede is wat daarop plaasvind. Dit is iets wat verwelkom word, sê Crosby. 

Daarmee saam is dit ook positief dat die staat reeds vanjaar, ondanks die Covid-19-pandemie, meer as 135 100 hektaar staatsgrond aan 275 boere beskikbaar gestel het. Die pandemie het groter hongersnood en werkloosheid veroorsaak en daar is kommer by Agri SA oor die impak van dié pandemie op landbou, maar om gemeenskappe te help om hul eie kos asook iets vir die mark te produseer met die beskikbaarstelling van staatsgrond, bring lig aan die einde van die tonnel.

Crosby sê dit is goed dat die staat onderneem om grond beskikbaar te stel, maar daar is in 'n mate kwessies wat kommer wek in dié verband. Korrupsie in regeringskringe en spesifiek die landboudepartement is een daarvan.  

Nog 'n punt is die feit dat mense wat die toekennings van staatsgrond gaan hanteer almal regeringsamptenare is. 

Die distriksgrondhervormingskomitees waarop georganiseerde landbou nie meer dien is, is nie 'n goeie sitsuasie nie, want die private sektor kan in dié verband 'n noodsaaklike rol speel in die seleksieproses van begunstigdes aan wie grond toegeken word.  

Sy sê die staat het ook 'n slegte baanrekord as dit kom by die bestuur van kontrakte. Crosby verwys na navorsing wat gedoen is deur die Universiteit van Wes-Kaapland. Dit toon talle begunstigdes van grond, wat aan hulle deur die regering toegeken is, het nooit skriftelike huurkontrakte ontvang nie.   


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.