Agri Hour
#BrendinHorner: Kalmte nou nodig, vra #VrystaatLandbou─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:07 Mon, 05 Oct 2020
Die wrede moord op 'n 21-jarige plaasbestuurder in die Paul Roux-gebied in die Vrystaat het skokgolwe deur die land gestuur.
Brendin Horner is Donderdagaand etlike kere met 'n mes gesteek. Hy het ook 'n kopwond gehad. Sy liggaam is Vrydagoggend gevind waar hy vasgemaak was teen 'n paal op die plaas waar hy gewerk het. Sy pet, met 'n mes daarop, is naby die toneel gevind. Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se landelike veiligheidskomitee, sê dié voorval is skokkend, en soveel te meer vir Horner se ouers, geliefdes en die gemeenskap van Paul Roux. Hy sê die wreedheid wat plaasgevind het tydens die voorval is onaanvaarbaar en dit kan bydra tot 'n gevoel van woede onder gemeenskappe, maar dit is nou die tyd wat kalmte gehandhaaf moet word. Le Roux vra gemeenskappe om eerder ter herinnering van dié jong Horner, vandag of Dinsdag deel te neem aan 'n oomblik van stilte. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Le Roux gepraat...
Sien PODCAST aan die einde van die bladsy
OFM-nuus het verneem dat Horner Donderdagaand moontlik na 'n pompstasie is op die plaas waar hy gewerk het, toe hy wreed vermoor is. Hy het Donderdag by sy pa Robby op 'n buurplaas gaan kuier waarna hy huis toe is, maar het nooit daar opgedaag nie. Le Roux wil nie veel uitwei oor die gru-toneel nie, en sê dit is 'n "gesig" wat enige mens eerder wil vermy.
Hy sê dit is te verstane dat gru-voorvalle van dié aard lei tot woede onder gemeenskappe. Dit is egter belangrik dat mense nou kalm moet wees en nie toelaat dat hul emosies die oorhand kry nie, want dít is wanneer mense aksie wil neem sonder om die gevolge daarvan in ag te neem, wat tot spyt kan lei. Ondeurdenkte optrede kan gemeenskappe duur te staan kom.
Daarmee saam moet gemeenskappe besef dat dit 'n groot uitdaging is om 'n doeltreffende uitslag (oplossing) te kry wat die hele situasie rondom moorde op plase en kleinhoewes kan aanspreek. Dit is nie so maklik nie, maar VL het egter 'n plan in sy visier met betrekking tot die veiligheid van gemeenskappe. Daar is reeds in Augustus begin met die beplanning daarvan, met onderhoude wat met betrokkenes gevoer is in 'n poging om vas te stel hoe dié plan in werking gestel kan word. Dit behels die betrokkenheid van alle gemeenskappe en nie slegs landbougemeenskappe of lede van dié organisasie nie. Hulle gaan deel wees van 'n tipe opleidings- en bewusmakingsproses, wat daarop gemik is om gemeenskappe meer weerbaar teen die aanvalle in landelike gebiede te maak. Dié opleidings- en bewusmakingsplan word in samewerking met die polisie slegs in die Vrystaat gedoen.
Hy sê die instelling van dié plan vorder goed, maar gemeenskappe moet besef dat hulle self verantwoordelik is vir hul veiligheid. Alles begin by mense self. Hulle moet hulself weerbaar maak en verantwoordelikheid neem. Gemeenskapsbetrokkenheid speel hier 'n reusagtige rol. Dit is belangrik dat mense weerstand kan bied in situasies waarin hul lewens bedreig word, en daarom is opleiding in dié verband van groot belang. Die tipe opleidingsproses gaan bydra tot die instelling van eenvormigheid en dissipline sodat gemeenskappe in die Vrystaat bemagtig kan word.
VL beplan ook 'n bewusmakingsveldtog waarin 'n oomblik van stilte gehou moet word ter herinnering van die gru-moord op Horner. Mense word gevra om deel te neem aan die oomblik van stilte waarin hulle kan bid en voor God kan stil raak. Le Roux sê ook die publiek en sakeondernemings word gevra om swart linte of lappe sigbaar te maak ter ondersteuning van dié oomblik van stilte. Daar is nog geen vasgestelde tyd bekendgemaak wanneer die oomblik van stilte vandag of Dinsdag gaan plaasvind nie. Bly ingeskakel op OFM vir meer hieroor.
OFM-nuus
