Agri Hour
#BrendinHorner: Boere vandag byeen vir hofverskyning in Senekal─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:09 Tue, 06 Oct 2020
Boere wat verbonde is aan verskeie landbouverenigings in die Senekal-distrik en omliggende gebiede is vandag byeen om hul misnoeë oor misdaad, en meer spesifiek aanvalle en moorde op plase en kleinhoewes, aan die wêreld te toon.
Rian Schutte, sekretaris van die Britsberg landbou-vereniging, wat deel is van Senekal-landbou, sê lede van ander landbouverenigings in dié distrik, asook Bethlehem, Steynsrus en Fouriesburg, gaan vreedsaam byeenkom in Senekal waar twee verdagtes vandag in verband met die wrede moord op die 21-jarige plaasbestuurder, Brendin Horner, in die plaaslike landdroshof verskyn. Horner is Donderdag wreed gemartel en op die plaas, De Rots, by Paul Roux vermoor. Sy liggaam, wat met 'n tou aan 'n paal vasgemaak is, is Vrydagoggend vroeg in 'n veld op die plaas gevind. Hy is verskeie kere met 'n mes aangeval. Shutte sê mense besef nie, maar hulle is nou meer as ooit in 'n "oorlogsone" vasgevang. Hy sê die byeenkoms vandag is goed gekoördineerd, en niks is vooraf daaroor besluit nie. Dit is maar slegs 'n geval waar boere van distrikte byeen is om hul stem te laat hoor. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Schutte gepraat...
Sien PODCAST aan die einde van dié blad
Hy sê die boere wat betrokke is "voel saam" met die boere in die naburige Paul Roux, waar Horner vermoor is. 'n Voorval van dié aard kan enige tyd met enigiemand gebeur. "Ons is verbitterd en wil saamkom en aan die wêreld toon hoe ons voel."
Volgens Schutte is dit onbekend wat vandag in Senekal gaan geskied en wat die polisie se beplanning behels, maar hulle is slegs byeen om hul misnoeë te toon en vir Bheki Cele, minister van polisie te sê hy is nie bevoeg om die land verder te lei nie. Hy faal in sy taak en stel die land teleur. "Ons is nie gelukkig met hoe Cele die 'dinge bymekaar hou nie'." Die samekoms het ten doel om 'n paar griewe aan die regering en pres. Cyril Rampahosa uit te lig. Hulle moet nou erken dat ons mense in hierdie land nie voldoende opgepas word nie. Dít geld vir almal, alle gemeenskappe in die land, wie se veiligheid in die gedrang is. "Hier is te veel moorde in die land. Daar is te veel geweld en sinnelose korrupsie wat nou ent moet kry," sê hy.
Volgens sy inligting is daar 'n klomp boere wat vandag van elders na Senekal reis om deel te wees van die samekoms en om dit te ondersteun. Dit is moeilik om ouers, wat 'n kind verloor het, te troos. Hy verwys na Horner se ouers. Dit is moeilik om hulle aan te moedig om sterk te bly in dié baie moeilike omstandighede, so dit is waarom mense vandag byeen is om aan Horner se naasbestaandes en geliefdes ondersteuning te bied en ook hul medelye te betoon. Daarmee saam is die boodskap wat oorgedra gaan word eenvoudig. Gemeenskappe het nou genoeg gehad, sê Schutte.
Daarmee saam vra hy mense wat dié samekoms bywoon om binne die wetlike raamwerk op te tree. "Ons is boere, ons is nie kriminele nie." Boere breek en saai nie verwoesting nie. Hulle produseer kos, lewer graan en verkoop hul vleis. Daarom moet mense die nodige respek aan die orde van die dag lê en mekaar respekteer. Schutte glo dit gaan 'n vreedsame byeenkoms wees onder baie slegte omstandighede.
Hy sê mense kom vandag by Senekal se veiligheidsvereniging byeen en daar word beoog om 10:00 na die landdroshof op te trek, waar die geleentheid buite die landdroshof met gebed geopen gaan word.
Dit is belangrik dat die landbougemeenskap kalm bly maar Schutte sê hy besef daarmee saam dat mense nou genoeg gehad het, en nie meer kalm kan bly nie.
OFM-nuus
