Agri Hour
AgriSA bied propvol virtuele kongres─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:24 Wed, 07 Oct 2020
Agri SA se kongres, wat vanjaar virtueel aangebied word, begin Woensdag en duur tot Donderdag.
Dié kongres se tema vanjaar is: " 'n Integrale deel van die ekonomiese waardeketting wat aanpas en bou aan 'n nuwe toekoms." Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van dié organisasie, sê dié skakel vir deelname aan dié virtuele kongres is op Agri SA se webtuiste beskikbaar. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien PODCAST onderaan die bladsy
Hy sê daar is opwindende gesprekleiers soos JP Landman, 'n ontleder van politieke en ekonomiese tendense, wat vandag in die openingsessie van die kongres aan die woord is. Hy gaan praat oor politieke scenario's. Daar sal ook geleentheid wees vir 'n vraag-en-antwoord sessie. Die groep- uitvoerende hoof van Transnet, Portia Derby, gaan praat oor die wyse waarop Transnet tydens die inperking uitdagings aangespreek het om boere en agribesighede te ondersteun.
Daar sal ook 'n oorsig verskaf word oor die vordering wat deur die loop van die jaar deur dié organisasie se Sentrum van Uitnemendheid gemaak is. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne, Van der Rheede, asook Annelize Crosby, hoof van grondsake sal aan die woord wees.
Landelike veiligheid gaan ook onder die loep kom en sal deur Kobus Visser, direkteur van landelike veiligheid en provinsiale sake hanteer word. Andrea Campher, 'n ramprisiko-bestuurder, gaan ook 'n oorsig verskaf.
Internasionale sprekers is ook deel van dié virtuele kongres en sal 'n oorsig gee oor wat gebeur in die internasionale konteks in terme van landbou, kosproduksie en die voorsiening daarvan. Dan Hennesy, uitvoerende hoof van die oesbeskermingsmaatskappy, Villa Suid-Afrika, en vise-president van Land O'Lakes, die Amerikaanse insetverskaffer wat 'n meerderheidsaandeel van Villa besit, gaan praat.
Van der Rheede sê die amptelike kongres vind Donderdag plaas, met die verkiesing van dié organisasie se ampsdraers, wat die president en die vise-presidente insluit.
OFM-nuus
