On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agri Hour

#VrystaatLandbou: 'Daar moet nou begrip wees vir boere se stryd'

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:43 Fri, 09 Oct 2020

 #VrystaatLandbou: 'Daar moet nou begrip wees vir boere se stryd' | News Article

Vrystaat Landbou (VL) is vol hoop dat daar begrip sal wees by wetstoepassers rakende emosies wat in hierdie stadium hoog loop onder boere.


Dit is volgens Francois Wilken, president van dié organisasie, in reaksie op die inhegtenisneming van André Pienaar, wat in Marquard boer, maar in Senekal bly weens sy beweerde betrokkenheid by gebeure in dié dorp, nadat 'n groep mense die hofgebou Dinsdag bestorm het. Dit was nadat twee verdagtes in verband met die grumoord op Brendin Horner, 'n plaasbestuurder van Paul Roux, in die hof verskyn het. Pienaar word van kwaadwillige saakbeskadiging en openbare geweldpleging aangekla. 'n Polisievangwa is ook buite die hofgebou omgekeer deur mense en dit was later in ligte laaie. Skote is ook afgevuur. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Wilken gepraat... 


Sien PODCAST aan die einde van die blad


Wilken sê as daar gekyk word na vorige protesaksies wat plaasvind in die land, begin dit aanvanklik met goeie intensies en om 'n goeie boodskap uit te stuur. Daar is egter dan omstandighede wat 'n rol speel en 'n mens  sal dan moet gaan kyk wat die oorsaak was wat daartoe bygedra het dat 'n situasie hande uitruk. Hy meen in die Senekal-voorval is skokgranate in die rigting van boere gegooi, en ongelukkig ontaard optredes soos dié in plofbare situasies - dit is soos om "olie op die vuur te gooi". "Ons hoop redelikheid sal seëvier en dat die omstandighede van die dag ook in ag geneem sal word in dié geval." 

Wilken sê die vraag is al verskeie kere aan die hof gestel oor hoe die gemoedere van die landbougemeenskap en die gemeenskap in geheel to bedaring gebring kan word. Hy sê die vraag kan egter gevra word hoe gaan mense reageer as 'n jong seun in die fleur van sy lewe, wreed vermoor word. Volgens Wilken is Horner se vingers afgekap en hy is aan 'n paal vasgemaak. "Dit is baie moeilik." Wilken sê die vraag moet ook gestel word hoe daar aan 'n boer, wat die hele dag werksaam is om kos te produseer op sy plaas, saans na sy huis moet terugkeer om net weer uit te gaan en gebiede te patrolleer. 

Boere moet ook hul gesinne, plaaswerkers en hul eiendom beskerm in dié situasie. Hy sê dit is die geval, terwyl boere geen ondersteuning van die politici ontvang nie. Dit is die geval met opmerkings soos dié van Bheki Cele, minister van polisie. "As ons gaan kyk na wat ons minister van polisie gesê het, dat die boere nie moet huil as hulle seerkry nie." Hy sê terwyl uitlatings van dié aard gemaak word, word die bal dan ook na landbou gegooi en daar word gesê boere moet kalm bly. Dit is baie moeilik om te doen. Wilken doen egter steeds 'n beroep op boere om kalm en deurdag te bly in dit wat hulle vorentoe beplan. 

Wilken sê verder dit is jammer dat 'n situasie soos in Senekal, tot op daardie vlak gegaan het en nou deur politici uitgebuit word en vir politieke populisme gebruik word.  


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.