On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Hier is van jou hoof landboustories op OFM

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:49 Fri, 09 Oct 2020

Hier is van jou hoof landboustories op OFM  | News Article

Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf, met OFM-nuus se Christal-Lize Muller wat nou die hoofstories van die week uitlig.


Sien PODCAST aan die einde van die blad


Twee verdagtes, Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa, bly in aanhouding in verband met die moord op die jong plaasbestuurder, Brendin Horne. Dit kom nadat hulle Dinsdag vlugtig in die landdroshof in Senekal verskyn het. OFM-nuus se span het die hofverrigtinge bygewoon en sê nie baie mense is in die hof toegelaat nie weens die Covid-19-inperkingsregulasies waarin sosiale distansiëring toegepas moet word. 

OFM-nuus se Olebogeng Motse het berig terwyl die verdagtes in die hof verskyn het, was 'n groot groep mense buite die hof byeen. Hulle was stil en het angstig gewag op die uitkoms van die hofverrigtinge. Die verdagtes sal na verwagting weer op 16 Oktober in die hof in Paul Roux verskyn. Die inhegtenisneming kom nadat die verdagtes verlede Saterdag deur speurders van die Senekal-tak in Fateng tse Ntho in Paul Roux in hegtenis geneem is.

Intussen sê 'n boer van die Bethlehem-distrik, Alfred Schreuder, 'n groep van dié gebied het die verrigtinge Dinsdag in Senekal bygewoon om die naasbestaandes van die jong plaasbestuurder van Paul Roux, Brendin Horner, wat vermoor is op 'n plaas waar hy gewerk het, te ondersteun. Hy sê gemeenskappe het nou genoeg gehad.


Boere is kwaad en mismoedig oor die veiligheidsituasie in die land. Dit is volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), wat meen ondanks dié feit, keur dié organisasie die voorval waarin 'n groep mense die hof binnegedring en 'n polisievoertuig omgekeer het, nie goed nie. Skote is ook afgevuur en skokgranate is gebruik. Dié gebeure het Dinsdag by die landdroshof in Senekal plaasgevind toe twee verdagtes in die hof verskyn het in verband met die grusame moord op die 21-jarige Brendin Horner, 'n plaasbestuurder van Paul Roux. Wilken stel dit wel duidelik in aanleiding van dié gebeure, dat dit in ag geneem moet word dat almal mense met emosies is en - op 'n sekere punt - kan die grense van redelikheid oorskry word.

Intussen het die regspan van 'n 52-jarige man, wat Woensdag ondervra is deur die polisie en in aanhouding is vir sy beweerde betrokkenheid by die gebeure in Senekal Dinsdag, aan OFM-nuus bevestig hulle is in die proses om 'n borgaansoek vir hul kliënt voor te berei. Ilanie Oberholzer van die firma NO Oelofse van Senekal en die regsfirma, Adriaan Janse van Rensburg, tree namens die aangeklaagde op. Volgens Oberholzer sal verdere inligting later deurgegee word. Die aangeklaagde sal na verwagting volgens die polisie Vrydag in die hof verskyn, op onder meer aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en openbare geweld.

Die African Farmers Association of South Africa, Afasa, is kwaad oor die moord op Brendin Horner, 'n plaasbestuurder van die Paul Roux-distrik. Nakana Masoka, sekretaris-generaal van dié organisasie, sê dit is hartseer dat 'n jong talentvolle man, wat 'n blink toekoms in die bedryf gehad het en 'n toekomstige leier kon word, in die fleur van sy lewe weggeruk is. Masoka sê daarmee saam veroordeel Afasa ook die voortslepende aanvalle op boere, terwyl veediefstal toeneem. Hy sê wel Afasa is nie oortuig daarvan dat daar in die Senekal-voorval deeglik beheer was nie, waar 'n groep mense hand uitgeruk het en die landdroshof binnegedring het. 'n Polisievoertuig is omgekeer en was later in ligte laaie. Masoka meen as daar meer beheer was, kon dit voorkom word dat boere se "geregverdigde woede" gelei het tot geweld en skade wat aan staatseiendom aangerig is. Hy meen dié optrede ondermyn nou landbou se ware stryd teen die regering om landbougemeenskappe te beskerm.

Masoka rig daarom 'n ernstige pleidooi aan die regering om meer te belê in die polisie sodat dienslewering kan verbeter.  


OFM-nuus



Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.