Agri Hour
Veiligheidsbevelsentrums is positief vir misdaadbekamping─── CHRISTAL-LIZE MULLER 01:31 Tue, 13 Oct 2020
Landelike veiligheidsbevelsentrums sal nou oor die land heen gevestig word.
Dit is van die ingrypings om misdaad in landelike gemeenskappe te bekamp. Die aankondiging kom nadat Agri SA, TLU SA, en AfriForum verlede week 'n waardevolle vergadering met die nasionale polisiekommisaris, Khehla John Sitole gehad het.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van landelike veiligheid by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, sê 'n sperdatum is ook vasgestel vir wanneer dié veiligheidbevelsentrum in werking moet wees. Hy sê 'n meer boerevriendelike reservistestelsel is ook op dié vergadering bespreek en daar is terugvoer gegee oor die vordering wat in dié verband gemaak is. Esterhuyse sê dit is positief dat daar op die vergadering onderneem is dat dié reservistestelsel nou aandag sal geniet. Daar is reeds 3000 bestaande reserviste wat in die polisiemag opgeneem gaan word. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien PODCAST aan die einde van dié blad
Esterhuyse sê gemeenskappe in geheel gaan betrokke wees by dié veiligheidsbevelsentrums. Dit sluit in belangegroepe soos AfriForum, buurtwagte, georganiseerde landboustrukture, en ander betrokkenes soos private sekuriteitsmaatskappye. "Dit gaan 'n gesamentlike poging in die gemeenskap wees om die polisie se hand te versterk om misdaad te voorkom." Hy sê dit gaan daartoe lei dat wat in die hersiende landelike beveiligingsplan hervat is, beter toegepas kan word.
Esterhuyse sê 'n meer boerevriendelike reservistestelsel behels die opleiding van reserviste, wat oor ses weke sal strek, sal in die vorm van afstandonderrig, geskied. Daarna sal praktiese opleiding in gebiede plaasvind. Dié opleiding sal deur die polisie gedoen word in gebiede waar boere en ander betrokkenes bly, sodat boere nie té lank van hul huise af is nie. Dié reserviste sluit boere en werknemers in wat opgelei kan word om die rol te vervul wat die polisie normaalweg uitvoer.
Patrollies gaan ook gery word en die voordeel daarvan is dat reserviste betrokke gaan wees en meer mannekrag beskikbaar gaan wees om ondersteuning te bied.
Intussen is nog 'n boer Maandagmiddag in die Vrystaat op sy plaas aangeval. Die Vrystaatse polisie het bevestig Andries Myburgh het middagete geëet in sy plaashuis in die Koffiefontein-distrik toe hy rook buite die huis geruik het. Hy het ondersoek gaan instel en is met 'n voorwerp oor die kop geslaan. Nog 'n verdagte het hom met 'n mes aangeval en hy is met brandstof gegooi. Volgens die polisie kon Myburgh vinnig optree en het hy agt rondtes in die rigting van die aanvallers afgevuur. Hy het toe besef sy klere is aan die brand, waarna hy in sy swembad gespring het. Myburgh se skuur is vermoedelik deur die verdagtes aan die brand gesteek.
OFM-nuus
