On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agri Hour

Tree nou verantwoordelik op, maan #AgriSA ná #BrendinHorner

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 01:37 Tue, 13 Oct 2020

Tree nou verantwoordelik op, maan #AgriSA ná #BrendinHorner | News Article

Terwyl die volgende hofverskyning van twee verdagtes in verband met die moord op Brendin Horner, 'n plaasbestuurder van Paul Roux in die Vrystaat, na verwagting eerskomende Vrydag weer in die hof is, maan Agri SA die landbougemeenskap tot kalmte.


Dié organisasie se nuutverkose president, Pierre Vercueil, sê die reg moet toegelaat word om sy verloop te neem. Hy meen die aangeleentheid rondom plaasmoorde is nou in die media regoor die wêreld en dit is nie meer slegs 'n plaaslike aangeleentheid nie. Dit is nou op internasionale vlak ter sake en daarom moet daar nou verantwoordelik opgetree word. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Vercueil, gepraat...


Sien PODCAST aan die einde van dié blad


Hy meen as verdagtes aangekeer word en voor die hof verskyn, kom dit daarop neer dat die reg tog geskied. Mense moet dit in ag neem, en weet vreedsame protesaksie is nie 'n probleem nie, maar dit moet korrek geskied, want landbou wil nie getipeer word met sekere politieke partye en hul optredes soos die afbrand van geboue nie. Hy sê dit is nie die styl van landbou nie en is nie die korrekte optrede wat moet plaasvind om 'n standpunt in te neem nie. Volgens hom is Agri SA nie 'n politieke party nie, maar 'n belange-organisasie en indien mense vreedsaam protes wil aanteken tydens die volgende hofverskyning in verband met die Horner-moord, dan is daar geen probleem nie.


Agri SA kongres

Hy sê dié kongres het baie goed afgeloop al is dit virtueel aangebied weens die uitdagings wat die Covid-19-pandemie daargestel het. Vercueil sê daar was baie goeie sprekers op dié virtuele kongres gewees en noodsaaklike kwessies is aangespreek.  Daarmee saam sê hy 'n spesiale kongres sal ook volgende jaar na verwagting in Maart of April  aangebied word.

Vercueil sê JP Landman, 'n onafhanklike ontleder, se insae was waardevol. Hy het gepraat oor die verwikkelinge in die politieke omgewing en wat in die toekoms verwag kan word. Landman het ook die wysiging van Artikel 27 van die Grondwet, wat onteieing van eiendom sonder vergoeding behels, en aangeleenthede oor private eiendomsreg aangeraak. Dit is nou voor op die tafel en daar moet aandag daaraan gegee word, want 'n boerdery kan nie doeltreffend bedryf word te midde van dié onsekerheid nie. Daarmee saam jaag dit jongmense weg wat tot dié bedryf wou toetree. 

Vercueil meen dié kongres het brandpunte in landbou aangespreek en dié organisasie is in die proses van praktiese beplanning sodat besluite wat geneem is, nou prakties in plek gestel kan word. Dit gaan dit mootlik maak vir boere om voort te boer. Daarmee saam is daar geweldige probleme by die Landbank in terme van finansiering vir produksielenings wat tot boere se beskikking is vir die nuwe seisoen. Die rol van dié bank in terme van landbou-ontwikkeling en die vraag waar geld daarvoor vandaan gaan kom, is ook van belang in Agri SA se beplanning om aan te spreek.

Hy sê die belangrikste is egter dat alles in die stryd gewerp moet word vir landbou om suksesvol te wees sodat dié bedryf in 'n posisie is om vooruit te gaan.  

Daarmee saam was die algemene siening op die kongres dat die ekonomie 'n ommekeer kan toon in 2020/21 en daar goeie groei in die ekonomie verwag kan word en teen 2024 kan dit uitstekend gaan met die land se ekonomie. Om daar te kom gaan egter nie 'n eenvoudige taak wees nie, meen Vercueil.  

Intussen het Vercueil pres. Cyril Ramaphosa se erkenning dat misdaad in die proses is om die land uitmekaar te skeur en dat dit ‘n ernstige grondwetlike bedreiging inhou, verwelkom. Daarmee saam sal die LUR van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Vrystaat, William Bulwane, na verwagting vandag in Bloemfontein met Vrystaat Landbou (VL) vergader rondom die gebeure in Senekal verlede Dinsdag. Daar was spanning tydens die eerste hofverskyning van die twee vermeende moordenaars van Brendin Horner, 'n plaasbestuurder van Paul Roux in dié provinsie. Die vergadering met VL het ten doel om beter samewerking tussen die polisie en VL te skep deur middel van 'n memorandum van verstandhouding. Die minister van Polisie, Bheki Cele, en die minister van Staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, sal ook na verwagting die familie van die vermoorde Horner vandag in die Paul Roux-distrik besoek. Georganiseerde landboustrukture sal ook toegespreek word.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.