On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agri Hour

'Vreedsame Potch-samekoms teen sinnelose moorde was nodig'

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:14 Wed, 14 Oct 2020

'Vreedsame Potch-samekoms teen sinnelose moorde was nodig' | News Article

'n Vreedsame samekoms buite die landdroshof in Potchefstroom deur 'n klein groep mense ter ondersteuning van die naasbestaandes van die vermoorde Sias Willemse, 'n deeltydse boer, sakeman en bekende in plaaslike sportkringe, was nodig.


Dit is volgens die kiesafdelingshoof van die DA in die JB Marks-munisipaliteit, Chris Hattingh, wat die hofverskyning van drie verdagtes weens die Willemse-moord gister bygewoon het. Die DA is deel van belangegroepe insluitende die landbou-organisasies, Agri Noordwes, Saai en TLU SA, en Afriforum en die Vryheidsfront Plus, wat 'n gesamentlike verklaring uitgestuur het oor die vlaag van sinnelose en wrede onlangse moorde in dié provinsie. Hattingh sê moorde en ook plaasmoorde het 'n emosionele kwessie geword, veral weens politieke uitlatings deur Bheki Cele, minister van polisie, en pres. Cyril Ramaphosa. Hy glo egter  daar moet op 'n verantwoordelike wyse rustigheid kom, terwyl dié kwessies aangespreek word. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat....


Sien  PODCAST aan die einde van die blad

Hy sê dit is nie 'n onvoorwaardelike erkenning dat moorde op plase en kleinhoewes 'n probleem in die land is nie en dit bly emosionele kwessies. Dít het uitgeloop op die gebeure in Senekal wat na sy mening skade aangerig het aan die regstelsel, en wedersydse vertroue. "Dié goed het net begin oorkook." Hy meen dit was nodig dat daar gister op 'n verantwoordelike wyse bietjie rustigheid gekom het. Die belanghebbendes het besluit om saam 'n verklaring uit te reik en hul boodskap duidelik te stel. Luidens dié gesamentlike verklaring is daar groot fout met die wyse waarop wette soos aanhitsing tot geweld, kwaadwillige saakbeskadiging en betreding selektief toegepas word. Daar is ook groot fout as misdadigers wat vir die soveelste keer op borgtog is, weer kan moor.  

Hattingh meen daar was eensgesindheid onder mense wat die geleentheid vir gebed voor die hofverrigtinge bygewoon het en daarna na die plaaslike landdroshof beweeg het, dat daar met die nodige verantwoordelikheid opgetree moet word. Die reg moet sy verloop kan neem. Daarmee saam was daar 'n besef dat kwessies van dié aard nie emosioneel aangespreek kan word nie, want dit is "kontra-produktief". 

Die verdagtes, Petrus Mahlapa, sy suster Merriam en broer Andries Mahlapo, is twee weke gelede in Ikageng in hegtenis geneem nadat Willemse se liggaam op 22 September deur 'n familielid in sy  huis in Potchefstroom gevind is. Hy het nekskietwonde gehad, en daar was ook dasse om sy nek. Die verdagtes het hul bortogaansoek gister laat vaar en het weer aangedui hulle gaan nie aansoek om borgtog doen nie. Hulle volgende hofverskyning is op 16 November. 


OFM-nuus



Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.