On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agri Hour

Koffiefontein-boere, polisie vinnig op hul pos - #plaasaanvalle

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:19 Wed, 14 Oct 2020

Koffiefontein-boere, polisie vinnig op hul pos - #plaasaanvalle | News Article

Boere, asook die polisie in die Koffiefontein-distrik in die Vrystaat, het vinnig opgetree en 'n soektog van stapel gestuur nadat 'n boer buite sy plaashuis aangeval is.


Andries Myburgh het Maandag middagete in sy huis op die plaas Vandermerwesdam geëet toe hy rook geruik het. Hy het ondersoek gaan instel waarna hy volgens polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, met 'n voorwerp oor die kop geslaan is. Myburgh kon daarin slaag om sy aanvaller weg te druk, waarna nog 'n booswig hom met 'n mes aangeval het. Daar is petrol oor hom uigegooi en dit is aan die brand gesteek. Myburgh kon skote op die twee aanvallers afvuur, waarna hulle te voet op die vlug geslaan het. Myburgh het besef sy klere brand brand en het na sy swembad gehardloop en ingespring om die vlamme te blus. Hy het sy bure en die polisie se hulp ontbied. Kempen Nel, veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL) se streek 18 in dié distrik, sê daar was 'n vinnige reaksie van beide die polisie en boere. Die polisie se honde-eenheid was ook teenwoordig en 'n helikopter is beskikbaar gestel. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Nel gepraat...


Sien PODCAST aan die einde van die blad


Hy sê dit is nou die tyd dat mense in landelike gebiede die belang daarvan besef om nou saam met die polisie te werk. Daar is betrokkenheid van die polisie in Koffiefontein in terme van landelike beveiliging. Hy sê dit wil voorkom dat as Myburgh nie 'n vuurwapen by hom gehad het nie en nie skote kon afvuur nie, hy baie erger daarvan kon afgekom het. Dit is juis daarom dat mense se eie paraatheid in landelike gebiede van kardinale belang is. Nel sê VL is ook in die proses om opleiding aan gemeenskappe in landelike gebiede te verskaf om meer doeltreffend op te tree in aanvalle op plase.

Nel sê Myburgh het nie ernstige beserings opgedoen nie, en dit gaan in daardie opsig goed met hom. Sy skuur is egter afgebrand en dit is die rook wat hy geruik het. Dit is 'n groot verlies, want daar was waarskynlik kunsmis, vee-materiaal en ook 'n trekker in dié skuur gewees. Dit is egter verblydend dat daar vinnig opgetree is deur boere. Daarom is dit uiters belangrik dat boere besef hul bure speel 'n belangrike rol en word die belang van noue kontak tussen boere en die betrokkenheid by staande veiligheidstrukture opnuut beklemtoon. Bure kan eerste help wanneer daar 'n aanval op 'n naburige plaas is. Nel sê mense in landelike gebiede moet besef hulle is op mekaar aangewese, maar boere se onbetrokkenheid by georganiseerde landbou se bestaande veiligheidstrukture is steeds 'n bron van kommer. 

Sover bekend is nog niemand in verband met die aanval op Andries Myburgh in hegtenis geneem nie.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.