Agri Hour
Landbou positief dat Cele veediefstal in O-VS wil ondersoek─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:26 Wed, 14 Oct 2020
Betrokkenes in landbou in die Oos-Vrystaat is positief oor die uitkoms van die vergadering met die polisieminister Bheki Cele in die Paul Roux-distrik. Cele het gister die familie van die vermoorde Brendin Horner, 'n plaasbestuurder, besoek.
Dit was 'n private aangeleentheid op die plaas Granspan. Hy het daarna met georganiseerde landboustrukture in die plaaslike landbousaal vergader. Herkie Viljoen, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidskomitee in die Bethlehem-distrik, sê hy is positief oor dié vergadering en dit het sy verwagtinge oortref, hoewel dit slegs die begin van 'n lang proses is. Viljoen sê die gesindheid waarin die hele vergadering plaasgevind het, was kalm en daar was geen rasse-agenda gewees nie. Veediefstal het onder die loep gekom. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien PODCAST aan die einde van die blad
Viljoen sê georganiseerde landbou het dit uit die staanspoor duidelik gemaak dat hulle die polisie met die vergadering by tydlyne wil hou en beloftes word nie gesoek nie, maar daadwerklike optrede is nodig. Hy sê 'n verslag wat met die Horner-moordverdages se hofverskyning in die landdroshof in Senekal verlede Dinsdag deur die betrokke landbouverenigings van dié distrik (Paul Roux, Fouriesburg, Clarins, en Kestel) saamgestel is, is intussen aangepas. Dit is Dinsdag aan Cele op dié vergadering oorhandig. Die belangrikste in dié verband is daar is 'n opvolgafspraak met Cele ná 21 dae. Hy het op die vergadering onderneem dat hy oor 21 dae 'n taakspan sal aanstel om veediefstal in dié distrik te ondersoek. Dit kom nadat boere in dié distrik 'n verlies van sowat R1,1 miljoen per maand lei, weens veediefstal wat nou hand uitgeruk het.
Hy sê veediefstal is die hoofmisdryf in dié stadium in dié distrik, want dit het 'n geweldige groot ekonomiese impak op boere, terwyl werksgeleenthede ook daaronder lei. Dit is nie slegs in die Bethlehem-distrik nie dit sluit Paul Roux en 'n gedeelte van Reitz en ander omliggende dorpe in. Dit is werklike verliese en dit kan nie so aangaan nie, iewers moet daar 'n streep getrek word, sê hy. In Viljoen se mening het die geleentheid homself met die vergadering met Cele voorgedoen. "Ek wil positief wees en positief reageer op wat hy (Cele) vir ons gesê het." Tyd is 'n goeie leerskool oor wat die toekoms inhou.
Opgedateerde verslag
Volgens Viljoen is die inhoud van dié opgedateerde verslag hoofsaaklik die aanloop na die punt waar daar besluit is om die verslag na die Valke te stuur. Dié verslag bevat statistieke van die vorige paar jaar se veediefstal-voorvalle wat die monetêre waarde van die situasie bevestig. Daar is ook verslae van vergaderings wat gehou is en agendas wat gedryf is, en waar die plaaslike polisie werklik gesmeek is om hulp weens die toename in veediefstal. Dié verslag bevat ook die polisie se reaksie daarop en wat gedoen en nie gedoen is nie, veral nadat die polisie deeglik bewus gemaak is van die veediefstalsituasie.
Viljoen sê die situasie versleg en Horner se moord is juis moeilik omdat die polisie oor al dié goed gewaarsku is en daar feitlike bewyse was. Dit is 'n slegte situasie, omdat die polisie tot verantwoording geroep is oor veediefstal, maar niks in dié verband is daaraan gedoen nie. Hy sê egter dít wat in die verslag wat nou in die hande van die polisie is, uitgelig is, bevat genoeg bewyse wat 'n behoorlike ondersoek moontlik gaan maak.
Intussen het VL gister in 'n memorandum aan senior staatsamptenare, wat die LUR van landbou en landelike ontwikkeling in dié provinsie, William Bulwane, insluit, geëis dat dringende aksie nou deur die regering geneem moet word om plaasaanvalle op boere en plaaswerkers stop te sit. Daarmee saam het Francois Wilken, president van VL, gesê kriminaliteit in die algemeen, maar meer spesifiek teen boere en plaaswerkers, word veroordeel. Daar word geëis dat 'n deeglike ondersoek na korrupte polisielede en staatsamptenare in veediefstalsindikate gedoen moet word. Daar word ook geëis dat daar indringende aksie teen groepe en politiese partyverteenwoordigers gedoen word wanneer hulle boere as gronddiewe uitkryt.
OFM-nuus
