Agri Hour
Misdaad in SA raak swart én wit, meen leierboer─── CHRISTAL-LIZE MULLER 08:59 Thu, 15 Oct 2020
Die misdaadsituasie in die land is 'n probleem wat die breë gemeenskap raak.
Dit is volgens Gilly Scheepers, eienaar van die Bloukruin-boerdery en werkgewer van die vermoorde Brendin Horner, wat meen swart én wit mense word deur misdaad geraak. Scheepers het met OFM-nuus se Christal-Lize Muller gepraat nadat polisieminister, Bheki Cele, en die minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, Brendin se ouers Dinsdag op die plaas waar hulle bly in die Paul Roux-distrik besoek het. Scheepers sê dié besoek aan Robbie en Miekie Horner het goed afgeloop. Hier is Scheepers...
Sien onderstaande PODCAST
Scheepers sê die ministers se besoek, wat 'n private aangeleentheid was, is met gebed geopen. Daar was geen arrogante optrede deur die afvaardiging nie, soos wat die geval glo was in Normandien tydens Cele se besoek aan die landbougemeenskap daar nie. Scheepers sê deernis is teenoor Horner se ouers getoon.
Hy meen dié besoek het Robbie meer gekalmeer, terwyl dit steeds nie goed met Miekie gaan nie, en dit is te verstane omdat sy 'n ma is wat haar seun verloor het. Volgens Scheepers is 'n private roudiens reeds Saterdag vir Brendin gehou. Ook dít was baie privaat.
Brendin was 'n werknemer van Scheepers, wat meer betrokke was aan die tegniese kant van die boerdery. Hy het die ratte van die boerdery laat loop. Scheepers sê Brendin het altyd geglimlag en was 'n vredeliewende mens. Hy was 'n "top" jong man.
Scheepers verwys verder na die situasie rondom misdaad in die land na 'n gesprek waarna hy geluister het waarin hoofregter Mogoeng Mogoeng, die prentjie geskets het oor die situasie in Rwanda. In dié Afrika-land het die gemeenskap hande gevat en staan nou saam teen rampokkers. Op 'n plaaslike vlak is daar talle mense wat van die misdaadsituasie in die land en die gebeure in Senekal verwys as 'n kwessie tussen swart en wit mense. Dit is nie die geval nie, meen Scheepers, en daar is 'n paar mense wat dit nie so wil aanvaar nie. Hy sê die groot kwessie plaaslik is dat ook swart mense deurloop onder veediefstal. Swart en wit vrouens word verkrag in Suid-Afrika, daarom is die misdaadsituasie in die land 'n gemeenskapsprobleem. "Dit is die gemeenskap wat lei onder die rampokkers." Scheepers stem saam met Mogoeng Mogoeng dat daar nou 'n God- en regsvresende eenheid in Suid-Afrika geskep moet word.
OFM-nuus
