Agri Hour
#BrendinHorner: 'Moenie in lokval trap met verdagtes se verskyning'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 10:00 Thu, 15 Oct 2020
'n Boer van die Oos-Vrystaat, wat instrumenteel was tydens die vergadering met polisieminister, Bheki Cele, distaniseer hom van 'n moontlike plofbare situasie wat kan ontstaan tydens die hofverskyning van die Brendin Horner-moordverdagtes.
Herkie Viljoen, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidskomitee in Bethlehem, sê hy fokus eerder op die vordering wat gemaak is in terme van die Cele-vergadering. Dié vergadering het hoofsaaklik gehandel oor die situasie rondom veediefstal in dié distrik, wat Paul Roux, Bethlehem, Fouriesburg, Clarens en Kestell insluit. Hy sê tydens dié vergadering eergister in Paul Roux is 'n aangepaste verslag, wat verlede Dinsdag in Senekal met die Horner-verdagtes se eerste hofverskyning bekendgemaak is, deur georganiseerde landbou aan Cele oorhandig. Cele het onderneem om oor minder as drie weke 'n taakspan beskikbaar te stel om veediefstal in dié distrik te ondersoek. Viljoen sê dit kom nadat boere in dié distrik 'n verlies van sowat R1,1 miljoen per maand weens veediefstal ly. Dit is op die vergadering aan Cele voorgelê dat die plaaslike polisie nie hul samewerking gee in verband met veediefstalklagtes nie.
Viljoen sê hy wil hom nie uitspreek oor die verwagte storm wat kan losbars wanneer die Horner-moordverdagtes weer in die hof verskyn nie. Verskeie belangegroepe en politieke partye, soos die EFF, wil opruk na dié hofverrigtinge. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Viljoen gepraat...
Sien PODCAST aan die einde van die blad
Viljoen sê daar is uiteenlopende menings oor wat moet of kan gebeur tydens die hofverrigtinge Vrydag. Hy meer egter leiers wat organisasies dryf en onvanpaste optrede voorstaan en propageer, moet nou ter wille van die land standpunt teen hierdie optrede inneem. "Ons kan dit nie toelaat nie." Haatuitsprake is nie die oplossing nie. Dit gaan die situasie versuur, en hy beskou dit as 'n lokval waarin mense gaan trap en kan seerkry. Daar is lesse wat geleer kan word uit verlede Dinsdag se gebeure in Senekal. Viljoen sê hy gaan nie die verrigtinge wat beplan word met die verskyning van die Horner-moordverdagtes Vrydag bywoon nie. In die stadium gaan dit vir hom oor die situasie in sy onmiddellike omgewing. "Vir my gaan dit oor hier waar ek wil boer, hier waar ek my kleinkinders wil grootmaak, dit is vir my belangrik om te sê watse verskil maak ek hier." Mense wat amok wil saai eerskomende Vrydag het 'n ander agenda en hy wil hom nie daaroor uitspreek nie.
OFM-nuus
