Agri Hour
Hier is van jou hoof landboustories op OFM─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:17 Fri, 16 Oct 2020
Ons kyk nou na jou week in die landboubedryf, met OFM-nuus se Christal-Lize Muller wat nou die hoofstories vir die week uitlig.
Pres. Cyril Ramaphosa het hom in sy weeklikse nuusbrief uitgespreek oor die toenemende verpolitiseerde kwessie van plaasmoorde in die land. Dit kom ná die wrede moord op die jong Brendin Horner, van Paul Roux in die Vrystaat vroeër vandeesmaand. Ramaphosa het gesê Horner se moord moet elkeen in die land kwaad maak en ontstel. Dít moet geskied ongeag van in watter gemeenskap mense bly, hul ras, geloofsbelydenis of taal. Daarmee saam het hy Suid-Afrikaners aangemoedig om die begingsels van die Grondwet te gehoorsaam, terwyl die oppergesag van die reg gehandhaaf moet word. Hy het gesê die gewelddadige betogings in Senekal verlede week, toe twee verdagtes in die plaaslike landdroshof verskyn het weens Horner se moord, toon mense het nog nie die verwydering van en wantroue in die land se verlede afgeskud nie. Hoewel die woede oor Horn se onsinnige moord geregverdig word, kan mense nie eie reg gebruik nie. Volgens Ramaphosa is mense wat dink plaasaanvalle raak slegs 'n klein deel van die bevolking, verkeerd, en beweringe dat geweldsmisddaad op plase deel is van 'n georkestreerde veldtog deur swart mense om witboere van hul grond te verdryf, is ongegrond. Studies toon misdaad in boerderygemeenskappe is grotendeels opportunisties.
Betrokkenes in landbou in die Oos-Vrystaat is positief oor die uitkoms van die vergadering met die polisieminister Bheki Cele in die Paul Roux-distrik. Cele het vandeesweek die familie van die vermoorde Brendin Horner, 'n plaaslike plaasbestuurder, besoek. Dit was 'n private aangeleentheid.
Hy het daarna met georganiseerde landboustrukture in die plaaslike landbousaal vergader. Herkie Viljoen, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidskomitee in die Bethlehem-distrik, sê hy is positief oor dié vergadering en dit het sy verwagtinge oortref, hoewel dit slegs die begin van 'n lang proses is. Viljoen sê die gesindheid waarin die hele vergadering plaasgevind het, was kalm en daar was geen rasse-agenda gewees nie. Veediefstal het onder die loep gekom.
Die minister van polisie, Bheki Cele, en die minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, se besoek aan die vermoorde Brendin Horner van Paul Roux in die Vrystaat se ouers het baie goed verloop. Gilly Scheepers, die jong Horner se werknemer en 'n boer van die Oos-Vrystaat, wat daar was, sê die besoek Dinsdag aan Horner se ouers op 'n plaas in die gebied is met gebed geopen. Hy sê daar was geen arrogansie nie, soos die geval na bewering was in Normandien tydens Cele se besoek aan die landbougemeenskap nie. Scheepers sê daar was deernis teenoor Horner se ouers, Robbie en Miekie Horner.
Scheepers, wat die eienaar van die Bloukruin-boerdery is, sê dié besoek het Robbie Horner meer gekalmeer, terwyl dit steeds nie goed met Miekie gaan nie. Scheepers sê 'n private roudiens is Saterdag vir Brendin gehou. Hy sê Brendin was meer aan die tegniese kant van die boerderye betrokke wat die boerdery se ratte laat loop het. Scheepers sê Brendin het altyd geglimlag en was 'n vredeliewende mens. Hy was 'n "top" jong man.
Intussen stroom huldeblyke in vir dr. Vuyo Mahlati, president van die African Farmers Association of South Africa, Afasa, wat Dinsdag oorlede is. Neo Masithela, voorsitter van Afasa, beskryf haar as 'n besonderse mens in eie reg en haar dood is 'n groot verlies vir die landboubedryf in geheel. Masithela sê volgens haar familie was Mahlati siek gewees en hulle wil nie verder daaroor uitwei nie. Hy sê Mahlati, wat ook die voorsitter van die presidensiële advieskomitee oor grondhervorming en landbou was, se dood is 'n groot verlies vir transformasie en eenheid in die bedryf.
Om na hierdie nuusinsetsels te luister gaan na http://www.ofm.co.za, kliek op News, Agriculture en die Agri-Hour. Kliek op News vir jou jongste nuus in die landboubedryf wat weeksdae in OFM se landbounuusbulletins om 11:00 en 13:30 aan jou gebring word. Bel Christal-Lize Muller met jou landbounuus by 082-851-8254 of stuur vir haar 'n e-pos na news@ofm.co.za.
OFM-nuus
